Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp is Vrydagnag 15 Februarie net na 00:00 tot in sy fondamente geskud toe 'n bejaarde paartjie koelbloedig vermoor is.
Die twee slagoffers, die 62-jarige George (Jors) Michaels en sy 64-jarige vriendin, Elizabeth (Elie) Rudolph is in Michaels se huis in Diepkloof dood aangetref.
Die twee is glo deur 'n vorige vriendin van Michaels en haar dogter doodgesteek.
Met Suid-Kaap Forum se aankoms op die toneel was die plaaslike polisie en die forensiese patologiese dienste reeds daar. Bure en ander inwoners het oral rondgestaan en gegis oor wat presies gebeur het.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, word twee klagtes van moord ondersoek. "Michaels is verskeie kere met 'n skerp voorwerp gesteek. 'n Nadoodse ondersoek sal op albei uitgevoer word."
Twee beskuldigdes het Maandagoggend18 Februarie in die hof verskyn. Die saak is tot Donderdag 21 Februarie uitgestel. Geen borgtog is toegestaan nie. Hulle bly in hegtenis.
Rudolph was vir die afgelope 12 jaar as huishulp in diens van Windvogel en sy vrou, Cathy.
Sien 'n vorige artikel: Twee bejaardes vermoor
Elzette Roberts en haar ma, Cathy Windvogel, vir wie Rudolph gewerk het, huil onbedaarlik op die toneel toe die liggame van die twee slagoffers verwyder word.
Michaels se liggaam word verwyder.
Wyle George Michaels.
Wyle Elizabeth Rudolph.
Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'