HEIDELBERG NUUS - Net 'n handjievol mense het Maandag 13 Mei by die hof opgedaag waar 'n ma en dogter op 'n dubbele moordklag teregstaan.
Dit is in skerp teenstelling met die vorige hofverskynings van die twee toe 'n groot groep inwoners voor die hof saamgedrom het ter ondersteuning van die saamleefpaar wat die nag van 15 / 16 Februarie vermoor is.
George Michaels (62) en sy vriendin, Elizabeth Rudolph (64) is in Michaels se huis in Diepkloof dood aangetref.
Hulle is na bewering deur Sabina Hartnick, 'n jaloerse eks van Michaels, en haar dogter, Annemarie Skietekat, om die lewe gebring.
Hartnick (54) dien op die oomblik tronkstraf van drie jaar uit nadat sy Michaels verlede jaar met 'n mes aangerand het. Skietekat het Maandag alleen in die hof verskyn, waarna die saak teen haar en haar ma tot 2 Julie uitgestel is.
Hulle word in die gevangenis op Oudtshoorn aangehou.
Dié moord word as een van die wreedste in die dorp se geskiedenis bestempel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'