Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die hofsaak in die rondgaande hooggeregshof op Swellendam teen Annemarie Skietekat, beskuldigde nommer een en haar ma, Sabina Hartnick, beskuldigde nommer twee, het op die sewende dag van die verhoor 'n opspraakwekkende draai geneem toe Hartnick emosioneel geknak het.
Skietekat (32) en Hartnick (55) is daarvan aangekla dat hulle vir George (Jors) Michaels en sy vriendin, Elizabeth (Elie) Rudolph, onderskeidelik 62 en 64 in Michaels se huis in Diepkloof gedurende die nag van 15/16 Februarie 2019 vermoor het.
Hartnick het Woensdag, 17 November in trane uitgebars terwyl haar advokaat, Fanie Harmse haar ondervra het. Na 'n kort verdaging is haar getuienis hervat en het sy erken dat sy ook vir Rudolph met 'n mes gesteek het.
Skietekat was Maandag, 15 November deur haar advokaat, Andrew Caiger ondervra.
Tydens haar getuienis het sy erken dat sy vir Michaels aangerand en vele kere met 'n mes gesteek het. Sy het getuig dat nie kan onthou hoeveel keer sy hom gesteek het nie.
Sy het ook aan die hof genoem dat Michaels, nadat sy hom gesteek het, aan haar sou gesê het dat sy uit sy huis moet gaan en dat hy die polisie gaan bel om haar aan te kla. Sy het egter ontken dat sy Hartnick aangerand en gesteek het.
"Ek weet nie wie haar aangerand het nie, want toe ek in die kamer by oom Jors kom waar hy my ma aangerand het, het ant Elie op die vloer gelê," het Skietekat gesê.
Die staat het sy saak Maandag afgesluit met die getuienis van die ondersoekbeampte, ao Reon Grundlingh van Heidelberg-polisie.
Hy was deur beide verdedigingsadvokate onder kruisverhoor geneem.
VIDEO: Moordverhoor op bejaardes duur voort
Verdoemende getuienis
Woensdag is verdoemende getuienis van die forensiese fotograaf, sers Petrie Arries, asook die patoloog, dr Christa Hattingh aangehoor. Hattingh het tydens haar getuienis verlede Donderdag (11 November) bevestig dat beide die oorledenes, veelvoudige steekwonde toegedien is.
Volgens Hattingh is Michaels 21 keer gesteek, waarvan die mees ernstige drie keer in die nek, nege keer in die bors, vyf keer in die maag en een keer in sy bobeen (dy) gesteek is. Daar was ook 'n paar snywonde aan sy liggaam.
Sy het ook getuig dat Rudolph veelvoudige steekwonde toegedien is, waarvan 13 baie ernstig was. Sy is ook brandwonde deur 'n sigaret aan haar genitale dele toegedien. Hattingh het genoem dat laasgenoemde beserings wraakagtig voorgekom het.
Na die kruisondervraging van Skietekat deur die staatsaanklaer het die regter besluit om Hattingh Woensdag weer terug in die getuiebank te kry om klaarheid te kry of Michaels enigsins in staat sou wees om nog regop te kon sit en te praat.
Hattingh het gesê aangesien daar geen bloed in Michaels se longe was tydens die nadoodse ondersoek nie, dit moontlik was.
Die saak dien voor regter Hayley Slingers. Advokaat Megan Blows is die staatsaanklaer. Advokate Fanie Harmse en Andrew Caiger tree onderskeidelik vir Skietekat, beskuldigde nommer een en Hartnick, beskuldigde nommer twee op.
Lees vorige artikels hier:
- Moordverhoor duur voort
- Ma en dogter uiteindelik voor hof
- Moord op bejaardes: Verhoor begin
- Moordverhoor begin nou
- Moordsaak weereens uitgestel
- Ma en dogter vandag in die Kaapse Hooggeregshof
- Ma en dogter wag vir DNS-uitslae
- Ma en dogter weer in hof
- Ma en dogter weer in hof oor grumoord
- Moordsaak uitgestel
- Bejaarde-moord: Ma en dogter kom voor
- Twee bejaardes is koelbloedig vermoor
- Twee bejaardes vermoor
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'