SWELLENDAM NUUS - Die lang verwagte uitspraak van die moordsaak waarin Annemarie Skietekat (32) en haar ma, Sabina Hartnick (56) aanklagte van moord in die gesig gestaar het, is Donderdagmiddag, 25 November in die rondgaande hooggeregshof in Swellendam gelewer.
Albei is deur regter Hayley Slingers skuldig bevind aan die moord op George (Jors) Michaels en sy vriendin, Elizabeth (Elie) Rudolph op die nag van 15/16 Februarie 2019.
Volgens Slingers staar die twee 'n lewenslange vonnis in die gesig en moet daar 'n korrektiewe proefbeampteverslag opgestel word. Die saak is voorlopig tot Maandag, 29 November uitgestel en vonnisoplegging tot 14 Maart 2022.
Die oorledenes se familie was ook tydens die uitspraak in die hof. Volgens Maria Rossouw, dogter van Michaels, asook Pieter Rudolph, seun van Rudolph is hulle bly dat geregtigheid geskied en dat albei skuldig bevind is. Hulle het die wens uitgespreek dat Skietekat en Hartnick lewenslange tronkstraf opgelê word.
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'