Update
RIVERSDAL NUUS - Groot ontevredenheid heers in Riversdal ná die vonnisoplegging van die Afrika-egpaar, wat skuldig bevind is in verband met die dood van Granwin Scholtz (34).
Familie, vriende en gemeenskapslede het Vrydag die Riversdal-streekhof volgepak, waar die vonnisse met sigbare ongeloof ontvang is.
Burneth Afrika (37), beskuldigde nommer een, is op aanklag van moord tot die minimumvonnis van 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Hy het ook 'n verdere vyf jaar vir regsverydeling ontvang, maar die hof het beslis dat die vonnisse samelopend uitgedien sal word, wat beteken dat hy effektief 15 jaar tronkstraf sal uitdien.
Afrika is verder onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit of te hanteer.
Sy vrou, Mauricia Afrika (bekend as Poplap), beskuldigde nommer twee, is op aanklag van regsverydeling tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die staat, verteenwoordig deur staatsaanklaer Drian Bakkes, het aangevoer dat die misdaad koud en berekend uitgevoer is.
Bakkes het beklemtoon dat die beskuldigdes se optrede nie getuienis van ware berou getoon het nie, maar eerder spyt was omdat die ondersoek hulle onteenseglik aan die misdaad verbind het.
Hy het die hof versoek om die swaarste moontlike vonnisse op te lê.
"Julle het die oorledene soos 'n dier weggegooi in die hoop dat hy nooit gevind sou word nie," het Bakkes in sy betoog gesê.
Die verdediging, aangevoer deur advokaat Rojean Barendse, het die hof versoek om versagtende omstandighede in ag te neem, insluitend beskuldigde nommer een se gesondheidstoestand, en om 'n gepaste straf binne dié raamwerk toe te pas.
Streeklanddros Mashua Ramale-bana, het tydens vonnisoplegging gesê dat die hof bewus is van die erns van die saak.
Hy het bygevoeg dat alhoewel hy van mening is dat nie alle feite volledig erken is nie, die beskuldigdes met hul gewetens sal moet saamleef.
Die egpaar is ook ingelig oor hul reg om binne 10 dae teen die vonnisse te appelleer.
Die hofsaal was gevul met familie en vriende van Scholtz, en 'n tasbare atmosfeer van ongeloof het geheers.
Alhoewel Scholtz se naasbestaandes nie direk kommentaar wou lewer nie, het familielid Elverne Michaels namens die familie gesê hulle voel die regstelsel het gefaal.
"Ons glo die vonnisse weerspieël nie die erns van die wrede moord op ons geliefde familielid en gerespekteerde sportman nie," het Michaels gesê.
Die moord
Die aanklagte teen die egpaar en hul vermeende medepligtige spruit uit die brutale moord op Scholtz in die vroeë oggendure van Sondag 16 Junie 2024.
Hy is later op Woensdag 19 Junie in Garciapas gevind, nadat lede van die gemeenskap ure lank na hom gesoek het.
Hy het meswonde in sy bors gehad, en daar word vermoed dat die beskuldigdes probeer het om sy liggaam in die kloof weg te steek.
Scholtz was 'n bekende en geliefde sportpersoon in die streek, bekend vir sy talent in krieket, gholf en tafeltennis.
Hy het as operasionele klerk by Soill in Swellendam gewerk en naweke Riversdal toe gereis om vir sy klub te speel.
Sy begrafnis is op 29 Junie 2024 by die St. Andrews Anglikaanse Kerk is deur honderde mense, waaronder familie, vriende, sportvriende en Hessequa se burgemeester, Grant Riddles, bygewoon.
In 'n hartroerende gebed deur pastoor Hadley het hy sy gemeenskapsgees en doelgerigte lewe geloof.
Vorige artikels:
- Familie ontevrede oor vonnis in Riversdal-moordsaak
- Moordsaak teen egpaar wéér uitgestel
- Egpaar weer in hof oor moord op sportman
- Granwin Scholtz kriekettoernooi uitgestel
- Krieket vier Granny se lewe
- Granwin met slagtersmes vermoor
- Afskeid by weggooikloof
- "Hou moordenaars in die tronk!"
- "G'n borgtog vir beskuldigdes!"
- Granwin word met deernis onthou
- 'Granny' wreedaardig vermoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’