RIVERSDAL NUUS - Die veelsydige sportman Granwin Scholtz (34) is op Sondag 16 Junie 2024 in die vroeë oggendure wreedaardig vermoor.
Sy verminkte, lewelose, halfnaakte liggaam - met etlike messteekwonde voor en agter op sy bolyf - is op 19 Junie, ná ‘n uitgebreide soektog - in ‘n fynbostak oor ’n kransskeur verstengel - in Garciapas gevind.
Sy vryheid is van hom ontneem. Sy familie, geliefdes en vriende is steeds oorbluf oor dié onbesonne daad.
Drie verdagtes is intussen aangekeer: die moordenaar het skuld beken, sy medepligtige verwerp die twee aanklagte (nog nie bekend gemaak nie) teen haar en ‘n ander vrou (wie se identiteit aan die gemeenskap en SKF bekend is en steeds op vrye voete is) is ‘n staatsgetuie.
Die vermeende moordduo se aansoek om borgtog is verwerp.
Hulle kom weer op 6 November in die landdroshof in Riversdal voor; met ‘n moontlikheid dat dié saak na ‘n hoër hof verwys gaan word.
Maar dié naweek - op Sondag 27 Oktober - word Granny se sportveelsydigheid en uitbundige lewe tydens die Legacy 7’s Cricket Tournament by ‘n trotse krieketkragmeting by die Riverville-stadion in Riversdal gevier: aangebied deur Cobus van Rooi en die All Stars Legend Gold Spice Albertinia Offenders RCB’s.
Toegang is gratis. Die hekke word reeds om agtuur die oggend oopgemaak en die gemeenskapradiostasie Hessequa FM gaan regstreeks uitsaai, terwyl DJ Ozzie die musiek deurdag gaan verskaf.
Dié Sondag gaan die skare egter anders lyk: die moordenaars gaan nie daar wees nie. Hulle is verhoorafwagtend agter tronktralies in George en Oudtshoorn.
Maar: hulle was daardie Sondag - kort ná die man Granwin vermoor het, sy vrou en nóg ‘n medepligtige van die slagoffer se lyk probeer ontslae raak het - fuifende op die pawiljoen, terwyl almal daar hul bekommernis gedeel het omdat Granwin nog nie vir daardie dag se wedstryd aangemeld het nie...
Die verdagtes het dae daarna nog in die gemeenskap gefunksioneer in ‘n poging om bewyse uit te wis en hul misdaad te verdoesel -– totdat die moordenaar homself oorgegee het, sy aandadige vrou nóg later in hegtenis geneem is en die beweerde medepligte staatsgetuie gedraai het.
En almal het deurentyd gelieg.
Sondag word sesse geslaan om Granwin se siel vry te laat vlieg....
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’