Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Terwyl die egpaar wat na bewering vir Granwin Scholtz (34) se moord verantwoordelik was, in aanhouding en verhoorafwagtend is, stroom video-huldeblyke van oral op sosiale media in om hierdie gewilde en veelsydige sportman te vereer.
Granwin was onder meer knap in krieket, gholf, tafeltennis en ander balsport.
FOTOGALERY: 'n Huldeblyk aan Granwin
“Granny,” soos hy geliefd by sy gesin en vriende bekend was, is na bewering in die vroeë Sondagure op 16 Junie vermoor, kort voordat hy daardie middag vir sy klub krieket op Riverville sou speel.
Volgens ooggetuies is hy laas gesien toe hy 'n pastei by die Shell-deurnagkafee gekoop het en toe saam met vriende in 'n voertuig in die rigting van die vliegveld gery het.
Hy is daarna nie weer lewend gesien nie.
Riversdal-polisie het ‘n moordsaak geopen vir verdere ondersoek ná die ontdekking van sy ligaam Woensdag, 19 Junie in 'n berghelling in Garciapas.
Sy begrafnisdiens is Saterdag, 29 Junie; eers 'n samekoms by sy ouerhuis in Panorama-uitbreiding om halftien en dan die diens om 10:30 in die St. Andrews Anglikaanse kerk in Riversdal.
Granwin word oorleef deur sy ma Sylvia Scholtz, sy suster, Cherita Scholtz en sy broer Habellin Scholtz.
· Luitenant-kolonel Malcolm Pojie het aan Suid-Kaap Forum bevestig dat 'n egpaar, tussen die ouderdomme van 37 en 38 jaar oud, op Vrydag, 21 Junie 2024 deur die ondersoekspan in hegtenis geneem is ná 'n ingewikkelde ondersoek ná die verdwyning van die oorledene.
· Die man en vrou het Maandag, 24 Junie 2024 in die Riversdal-landdroshof op 'n aanklag van moord verskyn.
· Die saak is tot Woensdag, 3 Julie 2024 uitgestel. Albei is onderskeidelik in George en Oudtshoorn in aanhouding.
Vorige artikel: 'Granny' wreedaardig vermoor
Video-huldeblyke stroom van oral op sosiale media in die gewilde en veelsydige sportman Granwin Scholtz (34) te vereer. Granwin is glo na bewering in die vroeë Sondagure op 16 Junie vermoor. Granwin was onder meer knap in krieket, gholf, tafeltennis en ander balsport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’