RIVERSDAL NUUS - Verskeie verdagtes is in hegtenis geneem en het reeds vlugtig in die hof verskyn ná die vermeende moord op die veelsydige sportgeesdriftige Granwin Scholtz (34).
Riversdal-polisie het ‘n moordsaak geopen vir verdere ondersoek ná die ontdekking van Scholtz se ligaam Woensdag, 19 Junie 2024 in 'n berghelling in Garciapas.
“Die ontdekking is gemaak deur 'n gemeenskapslid wat deel was van 'n soekgeselskap wat gestig is nadat die man Maandag deur familielede as vermis aangemeld is. Hy is laas lewend gesien toe hy in die naweek in ‘n voertuig geklim en saam met vriende vertrek het.
’n Lykskouing is op die liggaam – wat met sigbare steekwonde aan die bolyf gevind is - gedoen,” sê luitenant-kolonel Malcolm Pojie.
Scholtz, ‘n boorling van Riversdal, wat al ‘n geruime tyd in Swellendam woon en as ‘n operasionele rekenmeesterklerk by Soill gewerk het, kom naweke Riversdal toe om hier vir sy klub krieket te speel.
Mense het onraad vermoed toe hy nie daardie Sondag vir die wedstryd opgedaag het nie.
Hy is die volgende dag as vermis by die SAPD aangemeld.
‘n Spesiale huldeblyk-byeenkoms ter ere van hom is gisteraand deur honderde mense by die Riverville-stadion in Riversdal bygewoon.
Die gemeenskap is erg ontsteld oor dié onsinnige moord en oral word met vergelding gedreig.
In die lig van talle gerugte oor die motief van die moord, het Suid-Kaap Forum met verskeie gesins-en familiedede gesels. Niemand is egter bereid om kommentaar te lewer nie.
Ons het ook na Granwin se ma, Sylvia, uitgereik. “Dit is nog net té seer en daar is te veel vertroulike goed wat nog nie nou al kan uitkom nie. Die saak moet eers voorkom. Ek is nie in dié stadium bereid om met die media te praat nie.”
Mense wat Granwin geken het, het hom die troetelnaam “Granny” gegee. Hulle beskryf hom as “goedhartig, liefdevol en nederig.”
Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’