RIVERSDAL NUUS - Oor die 2 500 handtekeninge is reeds in ‘n petisie téén moontlike borgtog vir die beskuldigdes in die Granwin Scholtz-moordsaak ingewin.
Dié veldtog is op 25 Junie namens Grant Riddles, Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, deur Lenichia Willemse, die kantoor se media-verteenwoordiger, van stapel gestuur.
Sy sê die petisievorms is in die hele streek beskikbaar by tientalle mense wat geregtigheid vir Granwin eis.
“Enigiemand wat teen borgtog vir die beskuldigdes gekant is, het nog tot Vrydag teen kantoorsluiting tyd om protes aan te teken. Die inligting moet teen Woensdag verwerk en gelewer word.“
Dié vorms is by verskeie afsetpunte in Riversdal, Albertinia, Stilbaai, Slangriver en Melkhoutfontein beskikbaar vir ondertekening.
en tyde van die skryf van dié berig het reeds 1 067 mense aanlyn en 1 024 op papier hul misnoë uitgespreek.
· Die verklaring teen die verwagte borgtogaansoek word só verwoord:
Ons, die ondergetekende lede van die gemeenskap, spreek hiermee ons diepe kommer en teenkanting uit rakende die moontlike toestaan van borgtog aan beskuldigdes in die moord op Granwin Scholtz. Ons glo dat die toestaan van borg in hierdie saak die integriteit van ons regstelsel sal ondermyn.
Granwin Scholtz se moord het 'n diepgaande impak op ons gemeenskap gehad, wat vrees en bekommenis by inwoners veroorsaak het.
Daarom doen ons 'n beroep op die howe en relevante owerhede om borgtog vir die beskuldigdes te opponeer en te weier, om te verseker dat hulle in verhoorafwagtende aanhouding bly.
Hierdie maatreël is noodsaaklik om gemeenskapsvertroue in die geregtelike proses te handhaaf en ons kollektiewe verbintenis tot geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne te demonstreer.
Ons doen 'n beroep op alle betrokke burgers om saam met ons hierdie petisie te onderteken om 'n duidelike boodskap te stuur dat ons gemeenskap verenig staan teen enige besluit om borgtog in die Granwin Scholtz-moordsaak toe te staan.
Saam kan ons die beginsels van geregtigheid handhaaf en verseker dat diegene wat van ernstige misdade beskuldig word, aanspreeklik gehou word vir hul dade.
· ‘n Egpaar van Riversdal, wat vir die moord op Granwin aangekla word, sal weer op 3 Julie in die hof in dié die dorp voorkom om vir borgtog aansoek te doen. Hulle is intussen onderskeidelik in tronke in George en Oudtshoorn in aanhouding.
· Hulle het nog nie skuldig of onskuldig gepleit nie.
· Na bewering het ‘n derde verdagte - wat gehelp het om te probeer om van Granwin se lyk ontslae te raak en alle bewyse uit te wis - staatsgetuie gedraai. Sy is steeds op vrye voete.
· Die identiteit van die vermeende moordenaar en medepligtiges is aan Suid-Kaap Forum bekend, maar mag volgens regstegniese redes nog nie bekend gemaak word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’