RIVERSDAL NUUS - Die saak teen die egpaar wat van die moord op die veelsydige sportman Granwin Scholtz (34) aangekla word, is weer Woensdag in die Riversdal-streekhof uitgestel.
Die saak is tot Vrydag 23 Januarie 2026 vir vonnisoplegging uitgestel.
Scholtz is op Sondag 16 Junie 2024 in die vroeë oggendure wreedaardig vermoor en sy verminkte, halfnaakte liggaam met etlike steekwonde voor en agter op sy bolyf is op 19 Junie, ná ’n uitgebreide soektog in Garciapas gevind.
Die beskuldigdes, Burneth Ricardo (37) en sy vrou, Mauricia ‘Poplap’ Afrika (38), is aanvanklik saam met ’n derde persoon aangekeer, maar die derde persoon, ’n vrou, is vrygelaat nadat sy staatsgetuie gedraai het.
Burneth het op ’n vorige verskyning skuld op moord beken. Sy vrou is as medepligtige aangekla en staar ook ’n aanklag van regsverydeling in die gesig.
Die hofsaal was volgepak van beide die oorledene asook die beskuldigdes se familie en vriende.
Afrika het tydens sy getuienis aan die hof baie emosioneel geraak en het weer die oorledene se familie en veral sy ma om verskoning gevra dat hy hul geliefde van hulle weggeneem het.
Hy het ook gevra dat hy ’n kans gegun word om persoonlik met die familie te ontmoet en om hulle vergifnis te vra.
Die egpaar se regsverteenwoordiger het gister getuienis ter versagting van vonnis aan die hof voorgehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’