RIVERSDAL NUUS - Die moordwapen wat gebruik is om Granwin Scholtz (34) te vermoor, is ‘n slagtersmes met ‘n lem wat twintig sentimeter lank is.
Só het die ondersoekbeampte, speurder Boer van Rensburg, tydens die mislukte borgtogaansoek van die beskuldigde egpaar getuig.
Die mes, met ‘n blou hef, is op ‘n vensterbank agter ‘n gordyn in die egpaar se huis opgespoor.
Die vermeende moordenaar het ‘n nasionale diploma in omgewingsgesondheid verwerf en was voorheen ‘n vleisinspekteur in die Hessequa-streek.
Van Rensburg het tydens ondervraging deur die staatsaanklaer, Charlton Pretorius, ook getuig: “Danksy die ruig fynbos in Garciapas kon die beskuldigdes nie daarin slaag om van die slagoffer se liggaam ontslae te raak nie. Hy is tien meter diep afgegooi. As die natuur nie sy val gestuit het nie, kon sy liggaam vierhonderd meter dieper verlore geraak het.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’