RIVERSDAL NUUS - Die egpaar wat van die moord op die veelsydige sportman Granwin Scholtz (34) aangekla word, het gister, 10 Oktober, weer vlugtig in die Riversdal Streekshof verskyn.
Die saak is tot Dinsdag 4 November vir vonnisoplegging uitgestel.
Scholtz is op Sondag 16 Junie 2024 in die vroeë oggendure wreedaardig vermoor.
Sy verminkte, lewelose, halfnaakte liggaam, met verskeie messteekwonde voor en agter op sy bolyf, is op 19 Junie, ná ’n uitgebreide soektog, in ’n fynbostak oor ’n kransskeur in Garciapas verstengel gevind.
Daar is aanvanklik drie verdagtes aangekeer, maar die beweerde moordenaar het skuld beken.
Sy vrou is as medepligtige aangekla en staar ook ’n klag van regsverydeling in die gesig.
Die derde persoon, ’n vrou, het staatsgetuie gedraai en is vrygelaat.
Die hofsaal was volgepak met familielede en vriende van beide die oorledene en die beskuldigdes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’