Gallery
RIVERSDAL NUUS - ‘n Groepie familielede en nabye vriende het in die Vrydag-skemer van 28 Junie op die plek byeengekom waar die vermeende moordenaar en twee medepligtiges probeer het om van Granwin Scholtz (34) se liggaam ontslae te raak.
Granwin, wat ‘n gewilde en veelsydige sportman en veral knap in krieket, gholf en tafeltennis was, het messteekwonde in sy bors gehad.
Die vermoede is dat die beskuldigdes die bewyse van hul gruweldaad wou uitwis deur hom in die bergkloof weg te gooi, maar ruig fynbos het verhinder dat sy liggaam in die vergetelheid sou verdwyn.
‘n Lid van die gemeenskap het hom tydens ‘n uitgebreide soektog kort voor twaalfuur die middag van Woensdag, 19 Julie 2024 hier in die Garciapas gevind.
“Granny”, soos hy geliefd genoem is, is na bewering in die vroeë Sondagure van 16 Junie 2024 vermoor, kort voordat hy daardie middag vir sy klub krieket op Riverville sou speel.
Die begrafnisdiens was Saterdag, 29 Junie om 10:30 in die St Andrews Anglikaanse kerk in Riversdal.
Granwin word deur sy ma Sylvia Scholtz, sy suster, Cherita Scholtz en sy broer Habellin Scholtz oorleef. Tussen die afskeidgangers was onder meer sy oom, Edwin, sy tannie, Bonita, neefs en niggies en Grant Riddles, die uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit. (Sien fotogalery).
Die SAPD was teenwoordigheid om die afskeidgangers se veiligheid te verseker.
Pastoor Hadley het Granwin in ‘n roerende gebed van hoop en vertroosting geloof vir sy doelgedrewe gemeenskapdiens in Riversdal en Swellendam en die impak wat hy op só ‘n jong ouderdom kon maak. “Ek verstaan nou, Here, dit gaan nie oor hoeveel jare ons lewe is nie, maar oor hoeveel léwe in ons jare is.” (Kyk video).
Die diens is regstreeks op Youtube gestroom, vervaardig deur Oswald Khana.
· ‘n Egpaar wat vir die moord op Granwin aangekla is, verskyn weer Woensdag, 3 Julie 2024 in die plaaslike landroshof in Riversdal om om borgtog aansoek te doen.
· Lenichia Willemse, woordvoerder by die burgemeesterskantoor, het saam met ‘n aantal vrywilligers ‘n petisie téén die toestaan van borgtog geloods. Oor die 4 200 handtekeninge is gewerf.
· ‘n Derde verdagte in die saak het na bewering staatsgetuie gedraai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’