FINANSIËLE RUBRIEK - Navorsing voer aan dat geleenthede in die besigheidswêreld ontstaan as gevolg van sekere veranderinge wat die geleentheid bied om iets op 'n ander manier te doen, of dalk die geleentheid skep om iets heeltemal nuut te doen.
So kan veranderings in die tegnologiese, politieke, regulatoriese, sosiale en demografiese omgewings nuwe geleenthede skep.
Jeffrey Timmons, 'n pionier in entrepreneurskapsonderwys ondersteun hierdie stelling deur voor te stel dat voornemende en bestaande entrepreneurs na veranderings in hierdie omgewings moet kyk.
Die ontwikkeling van die internet, vooruitgang in nanotegnologie, biotegnologie, deregulering in nywerhede soos lugdienste, bankwese, versekering en telekommunikasie het vir almal 'n geleentheid geskep vir nuwe produkte, dienste en maniere om sake te doen. Handel oor die internet het 'n alledaagse verskynsel geword.
Dink maar aan die persoon wat iewers 'n winskoop optel, dit herstel en dan sommer weer op Facebook adverteer. Dink aan die sukses van Takealot.com met hulle e-handel. Veranderings in hoe ons leef (groter gemaksugtigheid en gerief), leer en werk, sowel as demografiese verskuiwings skep 'n gunstige omgewing vir die ontwikkeling van nuwe idees en geleenthede.
Indien 'n mens regtig 'n geleentheid soek om jou eie onderneming te begin, is die vereiste dat jy baie oplettend moet wees en fyn moet waarneem om veranderings te identifiseer wat geleenthede skep. Dink maar aan die invloed van die Covid-19- pandemie en hoeveel geleenthede vir die maak van maskers geskep is. Hoe moeilik die ekonomie ook al nou is, gaan baie geleenthede na afloop van die pandemie-krisis ontstaan. Die bewuswording van die veranderings in ons omgewing, gekombineer met ons algemene en spesifieke kennis verhoog die vermoë om idees te genereer en om dit te verander in innoverende, uitvoerbare geleenthede wat waarde vir ander mense kan toevoeg. Moenie alles altyd as vanselfsprekend aanvaar nie.
Idees kan individueel genereer word, maar dit is meestal gebou op inligting en/of gesprekke met ander mense. Luister fyn na wat mense rondom jou sê. Hoe dikwels hoor 'n mens iemand sê hy of sy wens dat daar 'n produk X of dalk 'n diens Y kan wees. Dit kan die inspirasie vir 'n wonderlike nuwe idee en geleentheid wees. Navorsing wat gedoen is, het aan die lig gebring dat die belangrikste idees voorkom wanneer mense om 'n tafel sit en praat. Miskien moet ons net begin om te luister om regtig te hoor - daardie geleentheid om 'n eie besigheid te koop of om 'n bestaande besigheid te koop.
In die volgende artikel gaan ons oor die keuse praat om eie besigheid te begin, of om 'n bestaande een te koop.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
- Kom ons praat finansies - Deel 8
- Kom ons praat finansies - Deel 9
- Kom ons praat finansies - Deel 10
- Kom ons praat finansies - Deel 11
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.