FINANSIËLE RUBRIEK - In die vorige artikel is die onbeheerbare oorsake van moontlike skuld bespreek.
Die tweede stel oorsake is die beheerbare oorsake wat grootliks onder die beheer van 'n mens is.
'n Wilsbesluit wat jy neem, kan voorkom dat jy in die skuldstrik trap. 'n Mens kan dus pro-aktief optree, teen die versoeking stry en dit vermy om in so 'n situasie vasgevang te word.
Hierdie oorsake is:
- Verwagting van inkome: Soms is die versoeking groot om die geld reeds te bank, al het ons dit nog nie ontvang nie. Mense bestee reeds die geld wat hulle volgende week of volgende maand gaan kry as die 'groot transaksie deurgaan'. Dalk dink jy aan die groot bonus wat jy die einde van die jaar gaan ontvang, en dan is dit kleiner of dalk is daar geen bonus nie. (Onthou 'n bonus is 'n voorreg en nie 'n reg nie). As hierdie verwagte inkome nie gebeur nie, is jy vasgevang in die skuld wat jy aangegaan het. Wees eers seker van die geld in die bank of in jou beursie voor jy dit uitgee.
- Gierigheid: Is dit nie soms die doodsteek van baie mense nie? Mense wil altyd meer hê en vlieg soms hoër as wat hulle vlerke hulle toelaat. Wanneer is genoeg genoeg? Wanneer raak gierigheid 'n siekte?
- Egskeiding: 'n Jongmens besef dikwels nie die gevolge van die keuse van 'n verkeerde huweliksmaat nie. As ma en pa waarsku teen die keuse, word dit dikwels met minagting ignoreer. Dalk trou jy met die regte lewensmaat, maar swak selfbeheer kan veroorsaak dat jy voor versoekings val en uiteindelik in die skeihof weens ontrouheid beland. Gewoonlik het dit 'n baie slegte invloed op jou boedel - as man moet jy onderhoud betaal vir jou vrou, dikwels die helfte van jou bates aan haar gee, ens.
- Onbeplande swangerskap: Dit bring onverwagte en onbeplande uitgawes mee. Dit is grootliks beheerbaar, maar kan egter ook onbepland gebeur.
- Onvoldoende beplanning en agtelosigheid: Dit spreek vanself as die belangrikste oorsake van finansiële probleme. Daar is 'n gesegde 'fail to plan is planning to fail'. Om agterlosig te wees met jou goed kan baie skade veroorsaak. Goed word nie opgepas nie. Waar 'n artikel jare kan hou, kan agtelosigheid en 'n 'gee-nie-om' houding die lewensduur van die artikel verkort. Dit wat stukkend is, word net doodeenvoudig nie reg gemaak nie en die artikel breek net al verder tot dit heeltemal onherstelbaar is.
Bogenoemde oorsake kan beteken dat 'n mens 'n gevoel ontwikkel dat jy beheer oor jou finansiële situasie verloor. Dit veroorsaak dat jy in 'n skuldspiraal vasgevang word waaruit jy moeilik kan ontsnap. Dit werk negatief in op jou gemoedstoestand en kan jou gesondheid beïnvloed. Neem aktief 'n besluit om beheer oor die situasie te neem. Dit sou beteken dat ek nie geld gaan uitgee (dikwels deur middel van die kredietkaart) wat ek nog nie ontvang het nie. Dit beteken dat ek nie hoër sal vlieg as wat my finansiële vermoë my toelaat nie. Moenie 'n passiewe slagoffer van jou moeilike finansiële situasie word nie. Neem 'n wilsbesluit.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.