FINANSIËLE RUBRIEK - Ek het in die vorige artikels vir u sommige van die mees algemene redes en valse oortuigings genoem wat mense aanvoer om skuld te maak. Gewoonlik is daar egter duidelik oorsake hoekom mense beheer verloor oor hulle finansiële posisie. Die oorsake kan in twee duidelike groepe verdeel word, naamlik oorsake wat ons kan beheer en die waaroor ons geen beheer het nie.
Kom ons kyk eerstens na die onbeheerbare oorsake.
Dit is waar dat die mens nie deur die lewe kan beweeg sonder om soms met hierdie onbeheerbare oorsake gekonfronteer te word nie.
Voorbeelde hiervan
- Om jou werk te verloor: Hoewel dit as 'n onbeheerbare oorsaak beskou word, is dit egter jou eie skuld as jy deur swak werk en lae produktiwiteit jou werk verloor, of dalk self bedank in die hoop dat jy iets beter gaan kry. Indien jy jou werk verloor deur herstrukturering, is dit uit die aard van die saak 'n onbeheerbare oorsaak.
- Verhoging in rentekoerse: Die mens het bitter min beheer oor die groter ekonomiese omgewing en die druk wat die internasionale ekonomiese omgewing op 'n mens het. As die Reserwebank die rentekoerse verhoog en jy het baie skuld, is dit so dat jou paaiemente verhoog met die gepaardgaande minder spandeerbare inkomste.
- Verswakking van SA rand: Die inter-nasionale omgewing het 'n baie sterk invloed op die waarde van die rand. Met die verswakking van die rand betaal 'n mens meer vir invoere - dus word die produkte se pryse duurder (want ons voer baie gebruiksartikels in) en gevolglik styg inflasie. Met die verswakking van die rand, word ons brandstofpryse ook duurder wat 'n opwaartse druk op verbruikerspryse het en dus veroorsaak dat jou besteebare inkomste minder raak.
- Onverwagte skade aan eiendom: My motor breek skielik, of my yskas of vrieskas is onherstelbaar stukkend. Slegs 'n nuwe yskas is die antwoord. Weereens 'n onbeheerbare oorsaak.
- Swak gesondheid: Niemand vra om ernstig siek te word nie. Swak gesondheid kan egter daartoe lei dat jy dalk jou werk verloor of doodeenvoudig nie meer in staat is om te werk nie. Die goue reël is dus dat jy jou gesondheid moet oppas en in so 'n mate kan jy hierdie oorsaak dalk in 'n mate systap of uitstel.
Elke mens is bewus dat hierdie dinge kan gebeur. Teen sommige van hierdie oorsake kan 'n mens versekering uitneem, bv. traumaversekering as jy met 'n ongeneeslike siekte gekonfronteer word, maar die beste finansiële verweer teen die meeste van hierdie dinge is as 'n mens maandeliks in jou begroting geld spaar in 'n sogenaamde gebeurlikheidsfonds. As die motor of yskas breek, het jy dus 'n gebeurlikheidsfonds wat die herstelkoste kan betaal of om selfs 'n nuwe yskas mee te kan koop.
Ongelukkig het baie min mense so 'n gebeurlikheidsfonds.
Die argument wat mense gebruik, is dikwels 'ek het nie ekstra geld om daarvoor te begroot nie'. Dalk moet 'n mens net mooi dink - dalk een minder 2 liter koeldrank 'n maand, dalk een pakkie sigarette minder, dalk 'n bier of twee minder, ens, ens.
Tel dus al hierdie 'klein' bedraggies bymekaar en gou het jy dalk 'n R100 of meer ekstra per maand om te spaar om 'n gebeurlikheidsfonds op te bou.
Hierdie spaar in 'n gebeurlikheidsfonds is uiters noodsaaklik en moet daadwerklik 'n doelwit in elke huishouding wees.
Vorige artikels:
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.