FINANSIËLE RUBRIEK - In hierdie moeilike ekonomiese tye waarin ons leef is dit voorwaar 'n finansiële stryd wat baie mense stry om kop bo water te hou. Dit is nie altyd maklik om die begroting te laat klop nie. Ons weet dat hoër rentekoerse enige skuld al hoe duurder maak.
Die stygende olie-/petrolprys dra ook nie daartoe by om ons lewe makliker te maak nie.
Stygende kospryse en lewenskoste vreet ons geld op. Politieke onrus het ook 'n direkte invloed op die ekonomiese omgewing en dit beïnvloed soms ons finansiële posisie verder op 'n negatiewe wyse. Die lys van finansiële negatiwiteite kan nimmereindigend word as ons regtig wil kla. Afgesien van eksterne faktore, is daar bepaalde beheerbare redes vir die dikwels swak finansiële posisie en gepaardgaande lewenstyl waarin baie mense hulself bevind.
Kom ons begin eers deur 'skuld' te definieer. Skuld is 'n universele probleem en wetlik is dit die verpligting om 'n ander party 'n bedrag geld te laat betaal vir goedere of dienste gelewer. Hoewel 'n huisverband as 'n belegging beskou word, bly dit steeds skuld en 'n finansiële verpligting wat terugbetaal moet word. Dus, skuld het 'n geweldige sterk invloed op 'n mens se kontantvloei. Meer dramaties kan 'n mens sê dat skuld 'n 'siekte' van die tyd geword het. Mense maak te maklik skuld en besighede is daarop uit op die verbruiker aan te moedig om skuld te maak.
Die groot vraag wat 'n mens jouself moet afvra is of jy vasgevang wil wees in 'n skuldspiraal en of jy vry sonder skuld wil wees. Die laasgenoemde opsie klink baie meer aanloklik.
Om sonder finansiële bekommernis te wees verhoog die kwaliteit van lewe. Daar is 'n mooi gesegde: "We cannot determine the length of our lives, but we can determine its quality."
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.