HESSEQUA NUUS - Skaakspelers van Hessequa het tydens die 2026 Eden-skaakliga goeie prestasies behaal. Riversdal A en Heidelberg A het in die eerste divisie deelgeneem, en Heidelberg B in die tweede divisie.
Die liga is oor twee bene aangebied; die eerste been by Hoërskool Pacaltsdorp in George en die tweede by Volschenk Primêr in Riversdal. Die premierdivisie het 10 rondes voltooi, terwyl die eerste en tweede divisies elk nege rondes gespeel het.
Hessequa-spanne se prestasies
Riversdal A het tweede in die eerste divisie geëindig met 16 wedstrydpunte en 28 spelpunte. Oudtshoorn A het dié afdeling gewen met dieselfde aantal wedstrydpunte, maar 30 spelpunte.
Heidelberg A het sesde in die eerste divisie geëindig met nege wedstrydpunte en 18,5 spelpunte.
In die tweede divisie het Heidelberg B die agtste plek behaal met ses wedstrydpunte en 14,5 spelpunte.
Individuele bordwenner
Lukhanyiso Mbobo van Knysna Knights het die tweede bord in die eerste divisie met agt punte gewen.
Skaak en lewenslesse
Die eerste been van die liga het ook ’n boodskap van dr. Gregorius Muller ingesluit, waarin hy die verband tussen skaak en die lewe beklemtoon het.
Hy het die woord C.H.E.S.S. gebruik om vyf beginsels uit te lig: consistency (konsekwentheid), humility (nederigheid), excellence (uitnemendheid), strategy (strategie) en sacrifice (opoffering).
Tydens die tweede been het Lundi Joxo van DCAS spelers aangemoedig om nederlae as geleenthede vir verbetering te beskou en altyd respek vir hul teenstanders te toon.
Die 2026 Eden-skaakliga het spelers van regoor die Eden-streek die geleentheid gebied om hul vaardighede te ontwikkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’