FINANSIËLE RUBRIEK - Waar begin dit alles? Kom ons kyk na 'n paar algemene redes hoekom mense maklik skuld maak of sommer net koop en so in 'n finansiële kontantvloei-probleem beland.
Soos reeds genoem, is hierdie redes binne die mens se bestuursvermoë en is dit eie wilsbesluite wat 'n rol speel.
Gedragsverwante rede
Daar is by baie mense 'n skuld-georiënteerde mentaliteit en veral jong mense toon toenemend hierdie neiging. Hulle vind altyd 'n regverdiging daarvoor om iets te koop. Dit raak 'n gewoonte om te koop. Dit lyk soms of hulle dink die geld gaan 'n gat in hul sak brand en daarom moet dit so vinnig moontlik uitgegee word.
Krediet is maklik beskikbaar
Ons word in winkels gebombardeer met die versoeking om 'n rekening oop te maak - koop nou, betaal later. Die waarheid is egter dat niks verniet is nie. Kan jy die 'later betaal' werklik bekostig? Het jy al uitgewerk wat die rente van sulke skuld is?
Swak selfdissipline en selfbeheer
Baie mense vind dit moeilik om nee te sê. Sommige mense word maklik omgepraat. "Ja man, jy kan dit bekostig - dink net hoe mooi jy in hierdie klere gaan lyk!"
'Ek verdien dit - ek kan myself 'n bietjie bederf'
Dis een van die mees aanloklike redes. Jy bluf jouself. Jy verdien dalk iets mooi, maar verdien jy regtig die skuld? Verdien jy regtig die finansiële stres?
'n Beheptheid met materiële dinge
My huis/motor/klere/meubels moet tog asseblief mooier/groter/duurder as die bure of my vriende s'n wees. Mense vind soms 'n gewaande sekuriteit en selfwaarde in materiële dinge. Ons moet tog net ten alle koste ander mense beïndruk. Gaan die ander mense jou help betaal?
'Almal-doen-dit-sindroom'
Dis 'n ernstige siekte in ons tyd: Almal het die nuutste selfoon - ek moet ook een hê. Almal het 'n klererekening - ek moet ook een hê. Wat doen jy net omdat almal dit doen?
'n Swak selfwaarde
Dit veroorsaak dat mense hulle met allerhande mooi en onnodige goed (ek noem dit 'nice-to-haves') omring om so 'n valse gevoel van aanvaarding te beleef. As mense jou aanvaar net omdat jy mooi goed het, misbruik hulle jou en is dit nie ware vriende nie.
Skuldkompleks teenoor man/vrou/kinders
Om ontslae van hierdie skuldgevoelens te raak, word hulle met onnodige duur geskenke oorlaai. Liefde wat niks kos nie sal 'n beter opsie wees.
Vorige artikel: Kom ons praat finansies - Deel 1
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.