FINANSIËLE RUBRIEK - Tydens vakansies is die veiligheidskanse af en verloor mense hulle finansiële selfdissipline.
Mense se geheue is baie kort - hulle rus juis van die afgelope jaar se spanning, maar vergeet baie vinnig dat 'n groot deel daarvan die resultaat van finansiële probleme, begrotings wat nie geklop het nie, ensovoorts was.
Die grootste rede is egter onvoldoende finansiële beplanning en geldbestuur.
Het u 'n begroting elke maand? Hou u boek van u inkomste en uitgawes?
Daar is nog baie ander redes wat bespreek kan word.
Mense mislei hulself ook verder met die volgende valse oortuigings:
- Om goed op skuld te koop is geen probleem nie, dit maak my onafhanklik van ander. Daar is soveel mense wat alles van alles wil hê. Kyk 'n bietjie in die huis of motorhuis rond en sien die dinge wat ongebruik rondlê;
- Eet, drink en wees vrolik, want môre is ons dood. Die probleem is as ons nie môre sterf nie, dan sit ons met die skuld;
- Daar moet 'n manier tot vinnige rykdom wees. Daar is min maniere om vinnig ryk te word. Die enigste plek waar finansiële sukses voor werk (harde werk) kom, is in die woordeboek;
- Dit is beter om nou skuld te maak, eerder as om te spaar - dinge raak net al hoe duurder. Hoe dikwels gebruik ons nie hierdie argument nie. Ek gaan dit in elk geval koop. Volgende jaar is dit duurder. Met skuld en die gepaardgaande rente, betaal jy in elk geval twee tot drie keer duurder vir die artikel. Spaar eerder en koop later die artikel kontant.
- Ek moet geld leen om geld te maak. Ons kan lank oor hierdie een gesels. Deeglike beplanning is egter van die uiterste belang.
As u mooi gaan dink, sal u met my saamstem dat die dinge wat hier genoem is, die wortel van baie mense se finansiële probleme is.
Lees weer deur die lysie en meet u gedrag daaraan.
Hierdie redes wat genoem is, is beheerbaar. U kan 'n wilsbesluit neem om nie in die slaggate te trap nie. Kom tot stilstand en besef net weer dat daar ander dinge in die lewe is wat belangriker as aardse rykdom is.
It is a good thing to have the things money can buy, but it is important to stop once in a while to see that you haven't lost the things that money can't buy...
Ek gesels volgende keer verder met u oor die gevoel as 'n mens beheer verloor oor jou finansiële vryheid.
Vorige artikels:
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.