FINANSIËLE RUBRIEK - Baie entrepreneurs glo dat die belangrikste faktor wat hul suksesvlak met die begin van 'n eie besigheid bepaal, verband hou met hul algemene ervaring en vaardighede in die spesifieke besigheid wat hulle begin, maar daar is ander vaardighede wat absoluut noodsaaklik vir sukses is.
Senuwees en geduld is nodig, maar die volgende kritiese vaardighede is belangrik.
As jy aandag aan hierdie vaardighede in jou eie lewe gee, kan jy moontlik toekomstige sukses as entrepreneur behaal.
Bereidwilligheid om te leer
Sommige mense dink dat leer stop wanneer hulle die skool of universiteit verlaat het, maar dit is nie die geval nie. Om te leer is 'n lewenslange proses. Soek altyd nuwe kennis. Meer as dit, moenie bang wees om te vra as jy nie weet nie.
Ambisie
As dit moeilik in 'n besigheid gaan, is dit maklik om op te gee, maar die suksesvolste entrepreneurs byt vas vanweë hul ambisieuse aard. Hulle wil slaag en hulle floreer deur klein mylpale te bereik op die pad na hulle uiteindelike doelwit.
Kreatiwiteit en moed
As 'n mens altyd dieselfde ding doen, sal jy waarskynlik nie nuwe en beter resultate behaal nie. 'n Mens moet voortdurend nuwe dinge probeer om uit te vind wat die beste werk. Verryk jou lewe gereeld met nuwe ervarings, want dit kan tot nuwe geleenthede lei wat voorheen nie beskikbaar was nie. Om die krag van kreatiwiteit te benut, moet jy ook die moed hê om iets te doen met die wonderlike idees en planne.
Die vermoë om te luister
'n Mens kan eenvoudig nie jou werknemers bestuur of 'n uitstekende klantediens lewer as jy nie 'n effektiewe kommunikeerder is wat goed kan luister nie. Kommunikasie is 'n tweerigting proses. Pasop vir kommunikasie wat slegs eie belang bevorder. Streef daarna om te wys dat jy in ander belangstel. Dit kan toekomstige samewerking bevorder, ander opgewonde maak oor jou doelstellings en jou help met die doelstellings.
Selfgeldendheid en selfvertroue
Wees beslis, maar tog openlik om respek en vertroue van diegene rondom jou te verdien. Elke mens moet weet waarvoor hy of sy staan, en 'n mens moet kan opstaan vir daardie oortuigings. Luister na ander wat redelike eise en versoeke het, maar baie belangrik, weet wanneer om nee te sê.
Volharding om aan te hou
Baie entrepreneurs het al mislukkings ervaar. Eerder as om na hierdie gebeure as 'n einde van hulle droom te kyk, het hulle dit as belangrike leergeleenthede gesien. Hulle het hul optimisme en deursettingsvermoë gehandhaaf, maar hulle het ook berekende veranderinge aan toekomstige pogings aangebring. Volharding is die sleutel tot sukses.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
- Kom ons praat finansies - Deel 8
- Kom ons praat finansies - Deel 9
- Kom ons praat finansies - Deel 10
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.