FINANSIËLE RUBRIEK - Daar is sekere mites of onwaarhede oor entrepreneurskap wat 'n mens sommer dadelik uit die weg moet ruim, anders kan dit 'n hindernis op die pad van entrepreneurskap wees.
Entrepreneurs word gebore en dit kan nie aangeleer word nie
'n Mens word nie met entrepreneur-skapgene gebore nie. Daar is duisende ander entrepreneurs wat nie dieselfde ikoniese status as 'n Bill Gates of 'n Harry Oppenheimer het nie.
Meeste mense het die vermoë om 'n suksesvolle entrepreneur te word.
Dit verg wilskrag en die gewilligheid om te leer omdat sekere vaardighede vir suksesvolle entrepreneurskap soos verkoops- en bestuursvaardighede nodig is. Dit kan egter aangeleer word.
Entrepreneurs is 'super-slim'
Entrepreneurs is dikwels nie die uitblinkers in die klas nie en was ook nie noodwendig die slimste persoon op skool nie. Dit beteken nie dat hulle nie wel intelligent kan wees nie, maar dit beteken slegs dat hulle op 'n bepaalde idee of produk gefokus bly en dus 'n gefokusde strategie volg. Fokus en absolute toewyding bepaal die sukses en nie intelligensie nie.
'n Mens moet jou besigheid alleen begin
As 'n mens na entrepreneurs oor die wêreld heen kyk, is dit welbekend dat van die grootste besighede deur 'n span mense begin is. Die alleen-hero-entrepreneur is dus soms waar, maar 'n mens moet jou met bekwame mense omring as jy sukses in die besigheidswêreld wil behaal.
Entrepreneurs het charisma nodig om suksesvol te wees
Deur slegs na entrepreneurs met charisma te kyk, skep 'n skewe beeld van entrepreneurs. Richard Branson het wel charisma, maar dit het nie van hom 'n suksesvolle entrepreneur gemaak nie. Suksesvolle entrepreneurs moet visie, sistematiese denke, sterk analitiese vaardighede en 'n mengsels van nederigheid en ambisie hê. Charisma is nie 'n resep vir sukses nie.
Entrepreneurs is ongedissiplineerd
Hoewel entrepreneurs soms wilde dinge aanvang, is ongedissiplineerdheid nie 'n kenmerk nie. Suksesvolle entrepreneurs moet baie selfdissipline hê, want hulle werk met beperkte hulpbronne, het nog geen goeie reputasie in die begin nie en het eintlik min tyd om uit die staanspoor 'n sukses te maak.
Entrepreneurs het 'n liefde vir risiko
As jy risiko en onsekerheid vermy, beteken dit ook nie dat jy nie 'n suksesvolle entrepreneur kan word nie. Om 'n eie besigheid te begin, is 'n risiko, maar dit is nie noodwendig 'n dobbelspel nie. 'n Goeie entrepreneur neem berekende risiko's en storm nie sommer net blindweg in 'n ding in nie.
Jy hoef dus nie lief vir risiko te wees nie, maar jy moet verstaan hoe om risiko te bestuur.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
- Kom ons praat finansies - Deel 8
- Kom ons praat finansies - Deel 9
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.