FINANSIËLE RUBRIEK - In die vorige artikels is oorsake hoekom mense beheer oor hulle finansiële posisie verloor, bespreek.
Om beheer te verloor oor jou finansiële sake is baie negatief vir jou gesondheid.
Dit voel of jy al dieper in 'n donker put wegsink. Gelukkig kan 'n mens 'n wilsbesluit neem om beheer oor jou finansiële posisie te neem.
Die volgende praktiese wenke kan jou help:
- As jou houding en spandeerpatrone nie belyn is met jou finansiële posisie nie, moet jy jou lewenstyl daadwerklik aanpas. Dit beteken dat jy nie hoër moet vlieg as wat jy kan bekostig nie. Vergeet van kompetisie - van 'n groter, mooier, duurder horlosie of motor of dalk selfs trekker as dié van my buurman. Dalk moet jy afskaal na 'n goedkoper DSTV-pakket. Dit vereis moed en deursettingsvermoë, maar dit is uiters noodsaaklik. Eerder nou die rieme stywer trek as later spyt wees.
- Vermy die 'word-gou-ryk' skemas. As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik. Moenie jou laat ompraat om iets te koop of in te belê wat sogenaamd vinnig en baie geld inbring nie. Spyt is 'n goeie ding, maar dit is gewoonlik te laat. Verkeerde besluite bring net later 'n gevoel van mislikheid, spyt en hartseer.
- As jy voel dat jy dit eintlik nie kan bekostig nie, is jy reg. Moenie jouself dan oortuig dat jy dit aan jouself verskuldig is nie. Jou intuïsie kan soms beter somme doen as wat jyself kan. Leer om jou sesde sintuig te vertrou en respekteer. Daardie stemmetjie binne jou wat jou waarsku dat jy 'n dom ding wil aanvang, praat baie dikwels die waarheid.
- Beplan voor jy optree - moenie oorhaastige finansiële besluite neem nie. Stel 'n begroting op en as jy kan, 'n kontantvloeistaat, veral as dit herhalende betalings of paaiemente is wat betaal moet word. Iets lyk dalk nou bekostigbaar, maar oor die lang duur kos dit baie geld. 'n Voorbeeld van 'n advertensie wat ek onlangs gesien het: 'n Dubbelbed word vir R3 999 adverteer - vanaf R4 999 afgemerk (dit is slegs 'n 'winskoop' as jy dit kontant kan betaal). Die terme vir afbetaling is R308 per maand vir 36 maande, nadat R400 as deposito vereis word. As jy die afbetalingsopsie aanvaar betaal jy uiteindelik R11 488 (R308 x 36) + R400) vir die bed. Bykans drie keer die aankoopprys. As jy die R308 elke maand vir 16 maande gespaar het, kan jy die bed kontant koop. Dit is dalk weer 'n bietjie duurder, maar die punt wat ek hier wil maak is dat deeglike beplanning van jou kontantvloeisituasie jou later baie trane en geld kan spaar.
- Maak elke maand voldoende voorsiening vir die onverwagte uitgawes. 'n Mens vergeet soms om hiervoor voorsiening te maak en dink dat sulke dinge nie sal gebeur nie; dat jou motor of yskas vir ewig sal hou en nie sal breek nie. Onthou die gebeurlikheidsfonds waarvan ek vroeër gepraat het. Beplan om daarvoor te spaar, al is dit net R50 per maand - begin net!
- Hou behoorlik boek van alle uitgawes - selfs die kleinste strokie van die supermark. Daar is die spreekwoord wat sê dat dit die klein jakkalsies is wat die wingerd verniel. Dit is die klein uitgawes wat jou geld laat verdwyn.
- Reageer op vroeë waarskuwingstekens. As jy bekommerd is dat jy reeds in 'n skuldspiraal vasgevang is, moenie dit ignoreer nie. Moenie dink dat skuld net gaan verdwyn nie. Doen iets daaraan - kry beplanningshulp as dit nodig is.
- Wees eerlik met jouself oor jou finansiële posisie. Mense is nogal geneig om vir hulself te jok. Die 'skande' van mislukking en 'n groot ego staan dikwels in die pad van eerlikheid. Beoordeel jou situasie en erken dat jy finansiële probleme het as dit die geval is, anders verskaf dit net later groter pyn en frustrasie.
- Soek betyds professionele hulp, dit is nie 'n skande om dit te doen nie. Daar is skuldberaders wat kan help en ook ander mense wat gratis raad kan gee. Vra liewer 'n dom vraag as om 'n dom ding te doen. Steek die trots in die sak en vra hulp.
Dit is egter duidelik dat ongeag die werklike oorsaak van 'n verslegting in 'n mens se finansiële posisie, die belangrikste punt wat onthou moet word is dat 'n mens deeglik moet beplan.
Maak dit 'n belangrike doelwit in jou lewe om die beheerbare oorsake te beheer en om te beplan om jouself teen die onbeheerbare oorsake te beskerm. Bid vir die wysheid om tussen hierdie oorsake te kan onderskei.
Leer om deeglik te beplan en om te aanvaar dat 'n mens elke dag met finansiële uitdagings konfronteer word. Niemand is daarteen gevrywaar nie.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.