FINANSIËLE RUBRIEK - In die vorige artikel is genoem dat ons nou by die proses is om 'n persoonlike begroting op te stel. Dit vereis gereedheid en beslistheid om die gordel stywer te trek. Dit vereis dat jy 'n wilsbesluit moet neem om werklik jou persoonlike finansies te bestuur.
Wanneer 'n mens dan begin om 'n plafon op jou uitgawes te plaas, is dit belangrik om die hele gesin in die proses te betrek. Dit sal later die weerstand van gesinslede verhoed wat ewe skielik nie kan verstaan hoekom jy weier om iets te koop nie.
'n Finansiële begroting moet 'n gedissiplineerde weergawe van wat jy kan bekostig wees en moet jou finansiële filosofie, doelstellings, doelwitte, prioriteite en dissipline reflekteer.
Geen plan is egter die papier werd waarop dit geskryf is, as dit nie gereeld gemonitor word nie.
In die volgende artikel (die laaste oor my persoonlike finansiële posisie) gaan ek 'n basiese proforma gee van hoe so 'n persoonlike begroting kan lyk. Die basiese benadering is egter om die volgende stappe toe te pas:
- Stap 1: Bepaal jou werklike vlak van besteding nou - gebruik die laaste drie maande se inligting (bv. Januarie, Februarie en Maart);
- Stap 2: Hou rekord van elke uitgawe vir die volgende maand in 'n boekie - dit vra dissipline en toewyding (bv. April);
- Stap 3: Begin 'n begroting vir die volgende maand - moenie jouself finansieel oorbelas nie (bv. Mei);
- Stap 4: Maak 'n opsomming van die maand se uitgawes teenoor die begroting in stap 3;
- Stap 5: Hersien en herbesin jou begrotingsbedrae vir die volgende maand (bv. Junie);
- Stap 6: Bly nou by jou begroting, monitor en lewe finansieel gedissiplineerd.
Ter opsomming: Erken en wees eerlik oor jou eie finansiële situasie. Beheer die kwaliteit van jou lewe deur jou finansies te beheer. Beheer dit deur jou lewenstyl te beheer en leef binne jou finansiële vermoëns. Glo jy kan 'n verandering in jou finansiële posisie maak. Sluit sommer vandag 'n kontrak met jouself:
Ek beplan om skuldvry te leef vanaf ___________ (vul die datum in).
Geteken te _______________ op hierdie ______ dag van ___________ 2020.
Handtekening: ___________
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.