FINANSIËLE RUBRIEK - In ons eerste artikel is dit genoem dat die grootste rede vir die gevaar van 'n skuldstrik, onvoldoende finansiële beplanning en swak geldbestuur is.
Indien wel beplan word, is die ander groot oorsaak van finansiële probleme die nalaat om jou finansies te monitor.
Daar is 'n gesegde ''n gek en sy geld word gou geskei', en dit is logies dat die gek waarna hier verwys word, die persoon is wat nie sy persoonlike finansies beplan nie. Ek het reeds in 'n vorige artikel na die bekende gesegde 'fail to plan is actually plan to fail' verwys.
Finansiële beplanning, die stel van persoonlike finansiële doelwitte en 'n ondersteunende begroting is uiters belangrik, veral as 'n mens met beperkte finansiële bronne werk.
Dit is belangrik om jou finansiële prioriteite te bepaal en om te fokus waarop jy jou geld moet bestee. Jy sou kon vra, nou hoe beplan ek vir 'n moontlike finansiële ramp of risiko? Dit is eintlik baie maklik - moenie beplan nie. Dan sal die gebeurtenis wel as 'n finansiële ramp ervaar word.
Die doel van enige plan is om die metode uit te spel van hoe om iets gedoen te kry. Deel van die basiese vorm van beplanning is om te droom - 'if you can dream it, you can do it.' So is argitekte byvoorbeeld besig om mense se drome waar te maak as hulle die droomhuis beplan. Daarom is die beginpunt van jou finansiële beplanning die visualisering van die droom om skuldvry te leef! Hoewel dit gevaarlik is om die aanname te maak, is dit wel in die meeste gevalle waar dat 'n persoon in finansiële moeilikheid, die persoon is met geen begroting en geen finansiële dissipline nie.
'n Belangrike kopskuif wat mense moet maak is dat geld 'n middel tot 'n doel is en nie 'n doel op sigself nie.
Dit beteken dus dat 'n mens jou finansiële prioriteite moet bepaal en daarop moet fokus. Dit beteken derhalwe dat jy jou persoonlike finansies doeltreffend moet bestuur aan die hand van 'n begroting.
Die moeilikste deel van hierdie nuwe finansiële kultuur wat jy moet aankweek is die boekhou van uitgawes. Dit vereis dissipline, veral omdat ons konfronteer word met banke wat vir ons kredietkaarte aanbied en kleinhandelaars wat kleinhandelkaarte aanbied wat dit maklik maak om te koop. So is 'n kredietkaart seker die maklikste ding om 'n tekort aan die einde van die maand aan te vul.
Die gevaar is egter - daardie eerste maand wat jy nie die kredietkaart se uitstaande balans kan betaal nie. Dan begin die skuldstrik. In so 'n geval, vernietig dadelik die kaart.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.