FINANSIËLE RUBRIEK - In die volgende reeks artikels gaan ek bietjie gesels oor entrepreneurskap. Noudat ek weet hoe om met geld te werk en hoe om 'n begroting op te stel, is dit dalk die aangewese tyd om te begin dink aan 'n eie besigheid.
Met die onseker omstandighede waarin ons nou leef, is dit dalk moeilik om aan so iets te dink, maar dinge sal weer een of ander tyd normaliseer.
Suid-Afrika beleef op die oomblik moeilike ekonomiese omstandighede. Die ekonomiese groeivooruitsigte vir die land is, na die Covid-19 pandemie ook ons getref het, negatief - dit wil sê die land is in 'n ekonomiese resessie. Sterk ondersteuning vir entrepreneuriese gedrag om sodoende ekonomies te groei en 'n meer welvarende land te word met werksgeleenthede vir almal, gaan dus toenemend dringend noodsaaklik word. Entrepreneurs help met 'n land se ekonomiese groei, dit bevorder innovasie en help om werk te skep.
Nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika was daar so 'n dringende behoefte aan entrepreneurs wat nie net sukses behaal nie, maar ook die vermoë het om hul gemeenskap positief te beïnvloed en te transformeer. Dit is egter terselfdertyd duidelik dat entrepreneurs in Suid-Afrika nie altyd die ondersteuning ontvang wat dit moontlik maak nie.
Daar is veral vier redes hoekom entrepreneurskap so belangrik in enige land se ekonomiese omgewing en veral in Suid-Afrika is:
Entrepreneurs bevorder ekonomiese groei
Nuwe produkte en dienste wat deur entrepreneurs geskep word, het dikwels 'n sneeubal-effek omdat dit verwante ondernemings of sektore stimuleer wat die nuwe onderneming moet ondersteun.
Entrepreneurs dra tot nasionale inkomste by
Entrepreneursondernemings help om nuwe welvaart te genereer. Nuwe en verbeterde produkte, dienste of tegnologie van entrepreneurs laat nuwe markte ontwikkel en nuwe welvaart word geskep. Verder dra verhoogde indiensneming en hoër verdienste tot beter nasionale inkomste by in die vorm van hoër belastinginkomste en hoër staatsbesteding. Hierdie inkomste kan deur die staat gebruik word om infrastruktuur in die land te ontwikkel, wat broodnodig vir ekonomiese groei is.
Entrepreneurs skep sosiale verandering
Deur unieke goedere en dienste aan te bied, breek innoverende entrepreneurs weg van die tradisionele manier van dinge doen en word die afhanklikheid van verouderde stelsels en tegnologieë verminder. Dit lei tot 'n verbeterde lewenskwaliteit, beter moraal en groter ekonomiese vryheid.
Gemeenskapsontwikkeling
Seker een van die belangrikste bydraes van entrepreneurs is die investering wat in gemeenskapsprojekte gedoen kan word en die finansiële ondersteuning wat aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies gebied word.
Dit bied die geleentheid vir verdere ontwikkeling. Dink aan bekende entrepreneurs soos Bill Gates wat hulle geld gebruik om verdienstelike sake te finansier, van onderwys tot openbare gesondheid.
Dit is dus in 'n land se belang dat sy landsburgers entrepreneurskap as belangrik beskou en beoefen.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
- Kom ons praat finansies - Deel 8
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.