RIVERSDAL NUUS - Met die druk van 'n knoppie het Hessequa-munisipaliteit Woensdag 30 September 'n nuwe hoofstuk in sy energiegeskiedenis begin toe sy R231 miljoen-sonkragaanleg en battery-energiestoorstelsel amptelik aangeskakel is.
Dié baanbrekersprojek, wat as 'n eerste van sy soort vir 'n munisipaliteit in Suid-Afrika beskryf word, sal volgens Wes-Kaapse premier Alan Winde ook as voorbeeld dien van wat elders in die provinsie en land gedoen kan word.
Meer as 150 mense het die amptelike opening bygewoon, onder wie Winde; Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning; Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit; Harry Malila, direkteur-generaal van die Wes-Kaapse regering; Graham Paulse, departementshoof van plaaslike regering; Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles; speaker Thinus van den Berg; onderburgemeester Gerald Boezak en munisipale bestuurder Albert de Klerk.
Winde het Hessequa geloof omdat hy volgens hom die eerste munisipaliteit is wat die "skakelaar aanskakel" met dié model.
Hy het gesê Kaapstad sal na verwagting volgende week met 'n soortgelyke stap volg.
Volgens Winde gaan die projek nie net oor die opwekking van elektrisiteit nie, maar veral oor die toekoms van Hessequa en veral sy jeug.
Hy het gesê energiestabiliteit skep ekonomiese stabiliteit, wat op sy beurt beleggers kan lok.
Inwoners behoort volgens hom ook op die lang duur by die gebruik van goedkoper groen energie te baat.
Winde het Riddles, De Klerk en hul spanne geloof vir die werk wat gedoen is om die projek van die beplanningstadium tot voltooiing te bring.
"Hessequa gaan die pad wys," was sy boodskap.
Hoogtepunt van 20 jaar
Vir Riddles was die opening ook 'n persoonlike mylpaal.
Hy het gesê dit is besonders om sy termyn af te sluit met die wete dat 'n projek wat inwoners nog lank in die toekoms sal bevoordeel, suksesvol voltooi is.
Hy het die projek as een van die hoogtepunte van sy loopbaan van sowat 20 jaar by Hessequa-munisipaliteit beskryf.
Volgens Riddles is die sowat R231 mil-joen wat die projek gekos het, aan die munisipaliteit beskikbaar gestel en sluit dit 'n onderhoudsprogram van vyf jaar in.
De Klerk, wat eerste tydens die geleentheid aan die woord was, het die belangrikheid van die projek vir Hessequa en sy inwoners beklemtoon en verduidelik hoe dit deel vorm van die munisipaliteit se strewe na groter energiesekerheid.
19 600 panele vang die son
Die omvang van die projek is indrukwekkend.
Die 10 MW-sonkragaanleg beslaan sowat 13 ha en bestaan uit 19 600 bifasiale sonpanele wat sonlig aan die voor- én agterkant kan benut.
Die aanleg het 'n geïnstalleerde paneel-kapasiteit van 11,27 MWp en word deur 'n 10 MWh-battery-energiestoorstelsel ondersteun.
Die sonkragaanleg sal na verwagting sowat 19 GWh, oftewel 19 miljoen eenhede elektrisiteit, per jaar opwek.
Dit verteenwoordig ongeveer 'n vyfde van Hessequa se jaarlikse elektrisiteitsbehoefte.
Die batterystelsel kan surplus sonkrag stoor en dit gebruik wanneer die netwerk onder druk is.
Tydens beurtkrag kan die battery saam met beskikbare sonkrag gebruik word om geselekteerde kritieke munisipale dienste aan die gang te hou.
Die stelsel is ontwerp om sowat 2 MW se kritieke lading vir tot vyf uur te ondersteun.
Die projek beteken dat wanneer die son oor Riversdal skyn, dit voortaan veel meer as net lig en warmte bring - dit help ook om Hessequa se energie-toekoms aan te dryf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’