RIVERSDAL NUUS - Die omstrede plan om 'n gedeelte van Jurischpark vir 'n winkelsentrum en wooneenhede te ontwikkel is van die tafel nadat die Hessequa-munisipaliteit se raad Dinsdag 29 September die aansoek van die hand gewys het.
Die besluit volg ná maande se debat en sterk openbare teenkanting teen die moontlike verkoop en ontwikkeling van sowat 37 170 m² van Erf 2080, waarop Jurischpark geleë is.
Die raad het tydens sy vergadering die aansoek van Dorpstraat Convenient Retail Investments (Edms.) Bpk. vir die vervreemding van die grond vir die ontwikkeling van 'n winkelsentrum met residensiële eenhede afgekeur.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is alle relevante inligting tydens die besluitnemingsproses oorweeg.
"Met die oorweging van die aansoek het die raad alle relevante inligting, insluitend die waardevolle insette wat tydens die openbare deelnameproses ontvang is, asook die gemeenskaps-, ontspannings- en erfeniswaarde van Jurischpark, in aanmerking geneem," het die munisipaliteit in kommentaar aan Suid-Kaap Forum gesê.
Die voorgestelde ontwikkeling het vroeër vanjaar heelwat reaksie onder Riversdallers ontlok nadat die munisipaliteit sy voorneme om die grond te verkoop, bekend gemaak het.
Ongeveer 50 inwoners het in Augustus by Jurischpark byeengekom om hul teenkanting teen die ontwikkeling te toon.
Beswaardes het onder meer kommer uitgespreek oor die verlies aan openbare groenruimte, die moontlike uitwerking op verkeer en die bestaande sakekern, asook die park se biodiversiteits-, ontspannings- en erfeniswaarde.
Vir eers bly Jurischpark soos inwoners dit ken.
"Op hierdie stadium word die status quo van die park gehandhaaf," het die munisipaliteit gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’