FINANSIËLE RUBRIEK - Een van die belangrike vrae wat 'n voornemende entrepreneur ook vir hom/haarself moet beantwoord, is: "Begin ek 'n besigheid van die grond af, of moet ek 'n bestaande besigheid koop?"
Dit is nie noodsaaklik dat entrepreneurs van nuuts af hulle eie besigheid moet begin of by 'n familie-onderneming moet aansluit om as 'n ware entrepreneur beskou te word nie.
'n Alternatiewe keuse is om 'n bestaande besigheid of 'n franchise te koop - dit staan normaalweg bekend as 'n 'uitkoop'.
Die redes en evalueringskriteria vir 'n uitkoop verskil nie noodwendig van dié van die begin van 'n totaal nuwe onderneming nie. Die drang om 'jou eie ding te doen' is nog steeds daar; die middele verskil egter. Daar is verskillende roetes om 'n eie onderneming te begin by die koop van 'n bestaande onderneming. Beide roetes het egter dieselfde doel, naamlik om 'n eie besigheid te besit. Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat die besluit nie iets is wat vinnig gedoen moet word nie.
Om 'n besigheid uit te koop word meestal as minder riskant beskou as om 'n eie onderneming te begin, veral as 'n mens 'n goed bestuurde, winsgewende onderneming vir die regte prys kan koop. 'n Groot voordeel is dat jy onmiddellike kontantvloei daarmee ervaar.
Dit is in baie opsigte makliker en vinniger as om van nuuts af 'n onderneming te begin. Dit is ook moontlik dat die besigheid teen 'n winskoopprys gekoop kan word, maar hou in gedagte dat nie alle ondernemings in die mark 'n goeie vooruitsig is nie. Baie eienaars verkoop nie-winsgewende of onderpresterende ondernemings. Dit kan egter 'n geleentheid wees om 'n goeie onderneming teen 'n winskoop te koop en te ontwikkel.
Die aankoop van 'n bestaande onderneming is dikwels 'n teleurstellende ervaring, want dit is miskien nie presies soos dit lyk nie. Die finansiële state wat aangebied word, is miskien nie waar nie en dit is moontlik nie finansieel so gesond soos dit behoort te wees, of voorgegee is om te wees nie.
Die gevolgtrekking is dus dat entrepreneurs seker moet maak dat hul besluit om 'n bestaande onderneming te koop, in plaas daarvan om een van die grond af op te bou, 'n goeie besluit is. Moenie vinnig 'n koopooreenkoms teken sonder om die regte huiswerk te doen nie.
Vorige artikels:
- Kom ons praat finansies - Deel 1
- Kom ons praat finansies - Deel 2
- Kom ons praat finansies - Deel 3
- Kom ons praat finansies - Deel 4
- Kom ons praat finansies - Deel 5
- Kom ons praat finansies - Deel 6
- Kom ons praat finansies - Deel 7
- Kom ons praat finansies - Deel 8
- Kom ons praat finansies - Deel 9
- Kom ons praat finansies - Deel 10
- Kom ons praat finansies - Deel 11
- Kom ons praat finansies - Deel 12
Professor Kobus Lazenby is 'n afgetrede dosent van die departement ondernemingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy gaan vir die volgende paar maande op 'n gereelde basis wenke en voorstelle gee oor hoe om jou finansiële posisie te verbeter, asook oor entrepreneurskap en verwante onderwerpe.