STILBAAI NUUS - Melkhoutfontein se sportgronde het Saterdag 29 Augustus behoorlik gegons toe Melkhoutfontein Primêr sy jaarlikse wintersportdag aangebied het.
Altesaam vyf skole het met o. 11- en o. 13-rugby- en netbalspanne aan die vriendskaplike wedstryde deelgeneem. Die deelnemende skole was Melkhoutfontein Primêr, Laerskool Bertie Barnard, Ridgeview Primêr van Mosselbaai, Bontebok Primêr van Swellendam en Stratford Primêr van Eersterivier in Kaapstad. Paideia Inclusive Education Centre het ook met hul netbalspan deelgeneem.
Die sportdag is daarop gemik om vriendskapsbande tussen skole te bou en te versterk, terwyl sportmangees en wedersydse respek bevorder word. Daarom het die fokus nie op die eindtellings geval nie, maar op deelname, karakterbou en die geleentheid om teen nuwe teenstanders kragte te meet.
Hoewel elke span vasberade was om hul beste te lewer en met 'n oorwinning van die veld af te stap, was dit die gees van kameraadskap en die liefde vir sport wat uiteindelik die grootste wenner van die dag was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’