Update
HESSEQUA NUUS - Die vlammehel wat Vermaaklikheid sedert Sondag teister, ’n lewe geëis en nege huise verwoes het, is onder beheer.
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit het gisteraand (Woensdag 24 Oktober) ongeveer 19:30 ’n verklaring en samevatting van die afgelope vier dae uitgereik. Hoewel daar nog dele was waar die vuur gesmeul het, sou dit gemonitor en enige opslaanbrande uitgesit word. Die gemeenskap en inwoners wat hulle bygestaan het, word ook bedank.
’n Gewilde venue vir troues op Oshoek en al sy gastehuisies was onder die plekke wat afgebrand het. Dinsdagoggend het Suid-Kapenaars met skok en hartseer verneem dat die legendariese vlieënier Nico Heyns dood is toe sy Working on Fire tjopper in Oshoek neergestort het.
’n Ooggetuie het in 'n video-onderhoud aan Suid-Kaap Forum genoem dat dit gelyk het of iets loskom voor die tjopper geval het (gaan na www.suidkaapforum.com om na die video te kyk). Lees ook meer hieroor in die ander artikels in die koerant.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is daar teen Dinsdag reeds meer as 3 000 hektaar weiding, landbougewasse en natuurlike veld in die brand verloor.
Teen gister het dié syfer na ongeveer 5 000 hektaar gestyg. Infrastruktuur soos store, omheining, water retikulasie toerusting en vee waterstelsels het ook afgebrand. Geen statistiek ten opsigte van vee- of wildsterftes was teen druktyd bekend nie.
Die oorsaak van die brand is nog nie amptelik bekend nie, maar daar word geglo dat ’n vonk van ’n kragpaal wat in die wind omgewaai het die droë bosse laat vlamvat het.
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles sê indirekte verliese word verwag ten opsigte van toerismepotensiaal. “’n Volledige evaluasie sal gedoen word om die volle omvang van die skade te bepaal. Vir elkeen wat ’n huis, struktuur of enige ander skade gely het, wil ons net ons innige meegevoel betuig.”
’n Oryx helikopter van die Suid-Afrikaanse Lugmag het uiteindelik teen Woensdag by die span brandbestryders aangesluit, asook ’n helikopter van Working on Fire en addisionele grondspanne wat ontplooi is. Twee vliegtuie (bombers) en ’n spotter-vliegtuig is ook Woensdag ontplooi, terwyl Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters reeds sedert Maandag die vlamme uit die lug bombardeer.
Só lyk dit uit die lug... Foto's: Mosselbay Helicopters
Verversings en noodhulpvoorrade het ingestroom wat deur verskeie instansies, ook op Mosselbaai en Knysna, ingesamel word.
’n Inwoner van Vermaaklikheid, John Thorne het rondom sy huis en ook die omgewing rondom hom goed natgemaak in ’n poging om te verhoed dat dit daar brand. “Dit is baie droog en dit is ’n bewys dat klimaatsverandering selfs nie eens vir Vermaaklikheid ontsien nie.”
Nog ’n inwoner van Vermaaklikheid, Willem Nieuwenhuys het gesê dit het Dinsdag by hulle gebrand en hoewel hulle nie nodig gehad het om hul huis te ontruim nie, hulle baie skade het.
“Ons bly nader aan Puntjie, so vyf kilometer van die see af. Die brand het nou oorgeskuif na Vermaaklikheid self en verder. Ons watertoevoer en waterpype is daarmee heen en drade het heeltemal afgebrand. Ons grootste probleem is ons watertoevoer. Ons het 'n fontein waaruit ons water pomp, maar dis nou daarmee heen. In hierdie stadium kan ons nie die skade bepaal nie, maar dit beloop sekerlik derduisende rand en ons het geen versekering nie.”
Een van die agt rietdakeiendomme wat deur die vlamme verswelg is.
Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai se landelike subforum het aan Suid-Kaap Forum gesê ’n brand noodfonds is op die been gebring.
“Die fonds is soortgelyk as die een wat ons vir die groot brand in 2016 gestig het en waarmee ons R350 000 ingesamel het om boere te help. Dit is om te verseker dat alle skenkings vir die regte redes aangewend word.”
Weldoeners kan geld in die volgende rekening inbetaal: JF Smit Prokureurs Ingelyf, trustrekening, Nedbank Stilbaai, tak 198765, rekeningnommer 1139364979. Die verwysing is ‘Brandnoodfonds’.
Só lyk dit uit die lug... Foto's: Mosselbay Helicopters
Lees vorige artikels hier:
- Opvolg: Brand onder beheer op Hessequa
- Update: Garden Route District fire
- Brand woed voort
- Vermaaklikheid: Stand van sake
- Vermaaklikheid fire out of control
- Update: Fire in Hessequa
- Verwoestende brand: Vermaaklikheid area
- Fatal helicopter crash during firefighting
- Opvolg: Brand op Hessequa
- Help ons brandweermanne
- Hessequa fires update
- Fire updates on Vermaaklikheid fire
- Opvolg oor Hessequa brande
- Opvolg: Brand op Vermaaklikheid
- Brand onstaan op Grootvaderbosch
- Dit brand nie op Heidelberg
- 2 Brande is eintlik 1
- Dit brand ook op Heidelberg
- Brand opvolg in Hessequa
- Huis in vlamme
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa, Karoo nuus'