RIVERSDAL NUUS - Die lot van 'n Kruisrivier-boer in die Riversdal-polisie bedieningsgebied, Jan van Rensburg wat op aanklag van strafbare manslag teregstaan, kan moontlik op 5 en 6 November bepaal word.
Van Rensburg is van strafbare manslag aangekla na 'n onderonsie tussen hom en sy buurman, Chris Harmse noodlottige gevolge gehad het.
Die twee boere was op 10 Februarie 2016 in 'n woordewisseling oor die onderhoud van 'n watersloot betrokke.
Harmse, wat ten tye van die onderonsie 61 jaar oud was, het op die plaas Peperduurfontein geboer. Vir sy buurman, Van Rensburg van die plaas Palmietfontein kan die onderonsie dalk nou peperduur gevolge hê.
Die staat voer aan dat die twee boere handgemeen geraak en Harmse in die proses sy enkel gebreek het.
Albei boere het by die polisie aangeklop om aanrandingsake teen mekaar aanhangig te maak. Harmse het egter twee dae later na 'n enkeloperasie in die Life Bay View privaat hospitaal op Mosselbaai beswyk.
Die aanklag teen Van Rensburg volg na druk van Harmse se weduwee, Ria op die direktoraat van openbare vervolging (DOV) om hul buurman krimineel verantwoordelik te hou vir die noodlot.
Die DOV het gehoor gegee en in Augustus 2018 het Van Rensburg se verhoor 'n aanvang geneem. Dit is egter verskeie kere uitgestel.
Vorige artikels:
- Manslag-saak teen boer begin
- Boer se verhoor begin
- Harmse-saak nog nie gereed vir verhoor
- Saak rol deur tot 2019
- Mediese verslag duik op
- Bewysstuk in Harmse-saak teruggehou
- van Rensburg verhoorafwagtend
- Saak teen boer uitgestel
- Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'