Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die saak tussen die staat en Jan Janse van Rensburg (70) wat van strafbare manslag aangekla word na die dood van Chris Harmse (61) het Donderdag 13 Februarie in die streekhof begin.
Dit is feitlik op die dag presies vier jaar na die twee boere op 10 Februarie 2016 op 'n serwituutpad langs 'n besproeiingskanaal handgemeen geraak en Harmse sy enkel gebreek het.
Hy is na die plaaslike hospitaal geneem, waar hy na behandeling vir 'n nie-lewensbedreigende besering ontslaan is. Die volgende dag is hy in Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai vir 'n prosedure aan sy enkel opgeneem. Hy het kort na middernag op 12 Februarie in sy hospitaalbed aan 'n hartaanval beswyk.
Jacobus Kleinhans, wat ten tyde van die voorval op Harmse se plaas as voorman gewerk het, is as eerste getuie geroep. Wat daardie dag op die serwituutpad tussen die kanaal en 'n hakiesdraadheining gebeur het, het tydens sy getuienis ontvou. Ten einde die verloop van die voorval beter te verstaan, het die hof die toneel besoek.
Kleinhans het getuig dat hy omstreeks 17:45 per tweerigtingradio deur Harmse versoek is om te gaan kyk 'wie jaag op sy plaas rond'. Hy is met vier werkers agterop sy bakkie na die kanaal en het Harmse ingelig dat Van Rensburg en twee werkers by die kanaal besig is. Kort daarna het Harmse en 'n vriend by die kanaal opgedaag.
Kyk 'n video hieronder:
Uit getuienis blyk dit dat Harmse en Van Rensburg in hul bakkies gesit en met mekaar gepraat het. Toe Van Rensburg met sy werkers agterop sy bakkie wou vertrek, het Harmse in trurat agter hom aangery en vir hom geskree om stil te hou.
Volgens Kleinhans het hy in sy bakkie gesit en kon nie sien presies wat toe gebeur nie. Eers toe 'n werker vir hom skree 'die meneer baklei', het hy uit sy bakkie geklim en hom na die twee mans gehaas. Hy het gesien Harmse sit op sy hurke met sy hemp oor sy kop langs die hakiesdraad. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Van Rensburg hom teen die kop skop.
Tydens kruisondervraging het Christi Olivier vir die verdediging gesê Van Rensburg sal getuig dat Harmse hom aan die enkel, voet of broekspyp beetgehad het en dat hy homself probeer bevry het.
Kleinhans het voorts getuig hy het die twee mans uit mekaar gehaal, waarop Van Rensburg in sy bakkie geklim en weggery het.
Streeklanddros Francis Makhamandela word deur prof. Patrick Commerford, hoof van die kardiologie-afdeling by die Universiteit van Kaapstad as assessor bygestaan. Johan Erasmus kla aan vir die staat.
Vorige artikels:
- Boer se verhoor begin
- Harmse-saak nog nie gereed vir verhoor
- Saak rol deur tot 2019
- Mediese verslag duik op
- Bewysstuk in Harmse-saak teruggehou
- van Rensburg verhoorafwagtend
- Saak teen boer uitgestel
- Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'