RIVERSDAL NUUS - Die saak teen 'n boer wat aangekla word van strafbare manslag nadat hy na bewering die dood van sy buurman veroorsaak het, is Vrydag 1 Maart na 5 April uitgestel.
Chris Harmse (61) van die plaas Peperduurfontein in die Kruisrivieromgewing was op 10 Februarie 2016 in 'n woordewisseling oor die onderhoud van 'n watersloot met Jan van Rensburg van die plaas Palmietfontein betrokke.
Hulle het handgemeen geraak en Harmse het sy enkel gebreek. Albei het 'n klag van aanranding gelê.
Harmse het op 11 Februarie 'n operasie aan sy enkel in die Life Bayview-hospitaal op Mosselbaai ondergaan. Hy het kort na middernag op 12 Februarie in sy hospitaalbed aan 'n hartaanval beswyk.
Harmse se weduwee Ria het die direktoraat van openbare vervolging (DOV) versoek om Van Rensburg vir Harmse se dood te vervolg. Die verhoor sou op 2 en 3 Augustus 2018 in die streekslanddroshof op Riversdal begin het, maar is uitgestel tot 6 Desember. Die saak is toe weer uitgestel tot 1 Maart vir die aanstelling van 'n mediese kundige om as assessor saam met streeklanddros Maka Mandela op te tree, maar is opnuut na 5 April uitgestel omdat 'n assessor nog nie aangestel is nie. Die Staat het ook nog nie alle besonderhede aan die verdediging voorsien nie. Christi Olivier verskyn vir Van Rensburg.
Ria Harmse het voor die aanvang van hofverrigtinge op 1 Maart vir Suid-Kaap Forum vertel dat sy Donderdagaand 11 Februarie 2016 tot omtrent 22:00 by haar man in die hospitaal was, waarna sy teruggery het plaas toe. "Die dokter het my net na middernag gebel om my mee te deel my man is oorlede. Ek het dadelik teruggejaag hospitaal toe."
Sy het die plaas op 11 November 2016 op 'n openbare veiling verkoop en sy is op 21 November terug Durban toe, waar sy hulle sake-onderneming bedryf. "Ek en Chris was 19 jaar getroud. Ek lewe steeds met 'n groot leemte in my hart, maar ek het geleer om sterk te wees, al is ek alleen."
Lees vorige artikels hier:
- Saak rol deur tot 2019
- Mediese verslag duik op
- Bewysstuk in Harmse-saak teruggehou
- van Rensburg verhoorafwagtend
- Saak teen boer uitgestel
- Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'