Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Landbouer van Riversdal, Jan Daniël Jacobus Janse van Rensburg het Woensdag 16 Augustus in die Mosselbaai-streekhof voor landdros JC Nortjé op 'n klag van strafbare manslag verskyn.
Die streekhofaanklaer, Johan Erasmus, het die hof versoek dat die saak, hangende 'n vertoë wat aan die departement openbare vervolging gemaak gaan word, oorgeplaas moet word na die Riversdal-streekhof, waar die beskuldigde weer op 29 September voor die hof sal verskyn.
'n Lasbrief vir arrestasie vir die beskuldigde wat nie by 'n vorige hofverskyning opgedaag het nie, is deur Nortjé op versoek van die aanklaer ingetrek. Janse van Rensburg het sy buurman, Chris Harmse (61) verlede jaar na bewering aangerand na 'n woordewisseling oor die onderhoud van 'n watersloot.
Dit het op die plaas Peperduurfontein in die Kruisrivier-omgewing plaasgevind.
Harmse het kort na die voorval in die Bayview Hospitaal op Mosselbaai na 'n operasie beswyk.
Lees 'n vorige artikel: Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'