Update
RIVERSDAL NUUS - Een van dié bekendste inwoners van Riversdal, Piet Stroebel (70) is Dinsdag, 9 November skielik oorlede.
Hy het 'n beroerte gehad en is in George Medi-kliniek oorlede.
"Piet se skielike afsterwe is vir ons as Stroebel-familie 'n groot skok. Hy was altyd daar vir almal, ongeag wie jy was, 'n man met 'n groot hart vir die gemeenskap. Ons neem moeilik van hom afskeid," het 'n woordvoerder van die familie gesê.
Hulle bedank almal vir hul ondersteuning, boodskappe en besoeke. "Dit word uiters waardeer. Liefde en dankbaarheid, Celia, Leoni, Lizelle en die volle Stroebel-gesin."
Piet het meer as 25 jaar diens by Hessequa-munisipaliteit gehad en die munisipale bestuurder, Johan Jacobs het sy skok en medelye uitgespreek.
"Piet, Pieta, oom Piet, oom Stroebel, die verkeersbeampte met die kortbroek... was by vele name bekend onder kollegas, lede van die publiek, vriende en veral in die verkeersbedryf waar hy onthou sal word vir sy vriendelikheid, hardwerkendheid, regverdigheid en veral vir sy absolute toewyding aan dit waarmee hy besig was," het Jacobs gesê.
"Sy skielike heengaan was 'n skok en word deur die Raad en personeel betreur. Piet Stroebel was 'n legende in sy eie tyd en sy omgee vir mense, sy lag, sy liefde vir sy vrou en dogters sal altyd voortleef. Ons groet 'n wonderlike oud-kollega met mooi herinneringe!
"Riversdal en Hessequa sal hom baie mis."
VORIGE ARTIKEL: Bekende skielik oorlede
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'