Update
HEIDELBERG NUUS - Die man wat na bewering sy vervreemde vrou met 'n swaar ystervoorwerp aangerand het, het Maandag 16 April weer vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die beskuldigde, Freek Cillie, staar klagtes van poging tot moord en verbreking van sy beskermingsbevel in die gesig. Die saak is tot Maandag 21 Mei uitgestel, omdat die mediese verslag nie beskikbaar was nie. Hy bly in aanhouding in die gevangenis op Buffeljagsrivier.
Nagenoeg 80 mense het die verrigtinge bygewoon. Ongeveer 40 van haar kollegas en werkers het aan 'n optog vanaf haar huis in Joe Slovo Park deelgeneem. Die optoggangers is deur munisipale wetstoepassers begelei.
Die ontstoke ondersteuners van die slagoffer eis onder andere dat geen borgtog aan die beskuldigde toegestaan word nie.
Hulle eis ook dat die hof die voorval as baie ernstig sal beskou en gevolglik swaar strawwe vir alle oortreders van dié soort misdade sal oplê.
Slagspreuke soos 'No bail for abuse, hoë strawwe vir vroueslaners, stop women and child abuse' en 'break the silence about women abuse' was vertoon. Op die beskuldigde se oudste dogter se plakkaat het gestaan 'We want justice'.
Die aanranding op die slagoffer, Cynthia Cillie het blykbaar daartoe bygedra dat sy haar linkeroog verloor het. Die tenger ma van drie is verskeie houe oor haar kop, arms en lyf toegedien.
Lees vorige artikels: