Update
HEIDELBERG NUUS - Freek Cillie (44) het Vrydagoggend 2 Maart vlugtig in die hof verskyn nadat hy na bewering sy vervreemde vrou Dinsdagaand 27 Februarie aangerand het.
Die beskuldigde is deur die hof meegedeel dat hy klagtes van poging tot moord en verbreking van sy beskermingsbevel in die gesig staar.
Hy bly in aanhouding en verskyn weer op Maandag 12 Maart in die hof.
Die slagoffer, Cynthia Cillie (45), is blykbaar met 'n swaar ystervoorwerp oor haar kop in die huiswinkel, aangrensend aan hul huis geslaan.
Volgens die erg getraumatiseerde vrou was sy en haar kleindogter al in die bed toe Cillie daar opdaag en aandring om daar te slaap.
"Ek het hom gesê dat hy mos weet dat hy nie hier kan slaap nie, waarop hy toe uit die huis stap en my dreig.''
Sy het uit die huis na die huiswinkel gehardloop, waar hy haar na bewering toe aangerand het.
Die huiswinkel waar die aanranding plaasgevind het.
Die ma van drie is veelvoudige houe teen haar kop toegedien en het ook 'n besering aan haar linkeroog opgedoen.
Binne enkele minute was haar bure en ander inwoners op die toneel.
Sy is by een van die bure se huis deur ambulanspersoneel behandel, waarna sy na Riversdal-hospitaal geneem is.
Sy is die volgende dag na George-hospitaal oorgeplaas, waar sy na 'n operasie en behandeling Vrydagmiddag ontslaan en huis toe gestuur is.
Lees 'n vorige artikel: Man in hof na aanranding
ARTIKEL & FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'