Update
HEIDELBERG NUUS - Freek Cillie (44) wat glo sy vervreemde vrou wreed met 'n swaar ystervoorwerp aangerand het, het Maandag 12 Maart weer vlugtig in die hof verskyn.
Hy staar klagtes van poging tot moord en verbreking van sy beskermingsbevel in die gesig.
Die saak is tot Maandag 16 April vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly in aanhouding in die gevangenis op Buffeljagsrivier.
Ongeveer 50 inwoners het aan 'n optog vanaf haar huis in Joe Slovo Park deelgeneem.
Hulle is deur munisipale wetstoepassers, plaaslike polisie en die openbare orde-eenheid begelei. 'n Memorandum is buite die hof deur Roseline Jansen aan die staatsaanklaer, Nontsikelelo Tyeke, en stasiebevelvoerder, lt.kol. Jeremy Lewak oorhandig.
Hulle eis onder andere dat geen borgtog aan die beskuldigde toegestaan word nie en indien wel, dat hy nie binne die Heidelberg-distrik toegelaat mag word nie behalwe vir hofdoeleindes.
Hulle eis ook dat die hof die voorval as baie ernstig sal beskou en gevolglik swaar strawwe vir alle oortreders van dié soort misdade sal oplê.
Die landdros Brenda Roodt het tydens 'n vorige verhoor oor aanranding op vroue haar kommer uitgespreek oor dié euwel wat volgens haar, in die distrik toeneem.
Volgens Roodt het sy opgemerk dat sowat 50% van 13 sake op die rol met geweld teen vroue verband hou.
"Dis baie, baie kommerwekkend as dit die tendens in die dorp is."
Lees vorige artikels:
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'