MOTORNUUS - ‘n Bekende inwoner, fotograaf en motorskrywer, Francois Germishuys is Woensdagaand oorlede. Hy was 60 jaar oud.
Hy het gereeld bydraes vir die publikasies van Group Editors, waaronder die George Herald gelewer.
Hy het in die verlede ook bydraes vir Die Burger gelewer. In ‘n stadium het hy ‘n prys gewen vir sy joernalistieke bydraes as motorskrywer.
Sy jongste suster, Wilma Slabbert, het vanoggend aan George Herald gesê Francois en sy eggenoot, Chanelle, was in die Kaap, waar hulle by sy skoonouers gekuier het.
Hy het Vrydag 13 Mei ‘n massiewe beroerte gehad waarna hy na die Karl Bremer-hospitaal vir behandeling geneem is. Hy is Woensdagaand in die hospitaal oorlede.
Volgens Slabbert kom Germishuys oorspronklik van Worcester waar hy destyds sy loopbaan in die polisie begin het.
Hulle was oorspronklik vier kinders, Amanda (Fourie), die oudste suster, Pieter, wat ‘n paar jaar gelede oorlede is, Francois en sy suster Wilma. Sy pa, Frans Germishuys (90) leef nog.
Francois word ook oorleef deur Chanelle, ‘n seun, Eugene, ‘n skoondogter en ‘n kleinkind.
Sy het gesê die familie is diep geskok. “Mens verwag nie so-iets nie.”
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie en sal later bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'