Update
RIVERSDAL NUUS - Die Kruisrivier-boer, Jan van Rensburg wat op aanklag van strafbare manslag op 'n ander boer, Chris Harmse teregstaan, is besig om in die Riversdal-streekhof finaliteit te bereik.
Die twee boere was op 10 Februarie 2016 in 'n woordewisseling oor die onderhoud van 'n watersloot betrokke. Harmse, van die plaas Peperduurfontein het in die proses sy enkel gebreek. Hy is twee dae later tydens chirurgie aan sy enkel in die Life Bay View privaat hospitaal oorlede. Hy was 61 jaar oud ten tye van sy dood.
Landdros NF Makhamandela het Donderdag en Vrydag, 5 en 6 November verdere getuienis in die saak aangehoor. Meestal plaaswerkers het getuig. Die saak is tot Vrydag, 27 November vir die aanhoor van mediese getuienis uitgestel.
Beide Harmse en Van Rensburg het kort na die voorval aanrandingsake teen mekaar gemaak. Harmse se weduwee, Ria het egter met haar man se afsterwe by die direktoraat van openbare vervolging daarop aangedring dat Van Rensburg krimineel verhoor moet word vir haar man se afsterwe.
Sy woon die hofsake sedert Van Rensburg se eerste verskyning by.
Staatsaanklaer Johan Erasmus verskyn vir die staat, terwyl Christi Olivier vir Van Rensburg verdedig.
Vorige artikels:
- Boer weer in hof oor manslag
- Manslag-saak teen boer begin
- Boer se verhoor begin
- Harmse-saak nog nie gereed vir verhoor
- Saak rol deur tot 2019
- Mediese verslag duik op
- Bewysstuk in Harmse-saak teruggehou
- van Rensburg verhoorafwagtend
- Saak teen boer uitgestel
- Boer dood na bakleiery oor watersloot
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'