Update
RIVERSDAL NUUS - Die vyf verdagtes wat aangekla word van die moord op Heila Kilian in April verlede jaar, het op Maandag 3 Junie weer vlugtig in die landdroshof verskyn.
Kilian (63) het by haar suster Brenda Thomas en haar man David op hul kleinhoewe buite Stilbaai gekuier terwyl sy na 'n voetoperasie aansterk.
Hulle drie en 'n vriend het die aand van 16 April buite gebraai toe vyf mans uit die donker op hulle afgestorm en skote afgevuur het. Kilian is noodlottig getref.
Sakhumzi Benya (29), Nkosiyethu John Nocuza (24), Msomi Nikani (24), Monwabisi Maki (22) en Xolisane Myoyi, (28) word aangekla van moord en gewapende roof.
Hulle word op verskillende plekke aangehou. Die twee wat naby Kaapstad aangehou word, is onder begeleiding van swaargewapende lede van die eenheid teen bendegeweld hierheen gebring. Die ander drie word naby Swellendam aangehou.
Landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen het die saak vir verdere ondersoek tot Maandag 1 Julie uitgestel. Charlton Pretorius kla vir die staat aan. Karien van den Heever tree namens die Regshulpraad vir die vyf verdagtes op, wat nie om borgtog aansoek gedoen het nie en in aanhouding bly.
Brenda, wat tans saam met haar man in Viëtnam woon en werk, sê dis steeds moeilik om die moord te verwerk. "Wonderbaarlik kan 'n mens vorentoe beweeg en net met genade van Bo kry 'n mens krag om alles te verwerk en steeds vas te hou aan hoop," het sy vroeër gesê.
Kol. Hein Kilian, Heila se man het tydens 'n vorige verskyning van die vyf buite die hof vir Suid-Kaap Forum gesê: "Dit is vir my onmoontlik om te verwerk dat sy op só 'n wyse vermoor is. Sy was een uit 'n miljoen; sy was binne en buite ewe mooi."
Lees vorige artikels:
- Deur genade kry 'n mens krag
- Die swartste dag van my lewe
- Stilbaai 5 weer vlugtig in hof
- Stilbaai 5 laat borgaansoek vaar
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'