Update
RIVERSDAL NUUS - Die 12 verdagtes in die Vivian Hartnick-moordsaak het Woensdag 17 September in die Riversdal-landdroshof vir hul borgtogaansoeke verskyn.
Dit het egter knap voor hul verskyning aan die lig gekom dat slegs nege van die beskuldigdes aansoek om borgtog gedoen het, die ander drie se aansoeke is teruggetrek weens die verbreking van hul paroolvoorwaardes.
Die hofverskyning het onder streng veiligheid plaasgevind terwyl gemeenskaps-lede buite die hofsaal saamgedrom het.
'n Sterk polisieteenwoordigheid was sigbaar om die situasie te monitor en moontlike onplesierige voorvalle te voorkom.
Nagenoeg 150 inwoners was buite die hof byeen. Die 12 beskuldigdes het vlugtig verskyn nadat hulle met hul regsverteenwoordiger gekonsulteer het.
Die saak is tot Woensdag 22 Oktober vir formele borgtogaansoeke vir nege van die beskuldigdes uitgestel.
Reeds by die vorige verskyning op 20 Au-gustus het spanning buite die hof handuit geruk toe sowat 350 oproeriges saamgedrom het.
Die polisie was toe genoodsaak om skokgranate en selfs 'n waterkanon in te span om die skare uiteen te dryf.
Die saak hou verband met die ontvoering en wrede moord op Vivian Hartnick (35), wat op Dinsdagaand, 12 Augustus, uit sy huis in Van Riebeeckstraat, Riversdal, ontvoer en die volgende dag dood op 'n plaaspad gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het daar glo 'n gewelddadige onderonsie tussen die verdagtes en Hartnick se familie by hul woning plaasgevind.
Die aanvallers het die huis geplunder, inwoners aangerand en onder meer 'n televisiestel, selfone en 'n handsak gesteel.
Hartnick is later as vermis aangegee en 'n soektog is van stapel gestuur.
Die polisie het na 'n groen Toyota Corolla en 'n wit Opel Corsa gesoek, wat onderskeidelik naby die Riversdal-polisiestasie en op pad na Mosselbaai opgespoor is.
Die insittendes is in hegtenis geneem en verdere arrestasies het gevolg.
Van die gesteelde items is teruggevind, en Hartnick se liggaam is uiteindelik op 'n plaaspad ontdek met verskeie steekplekke en beserings aan sy kop, rug en lyf.
Die verdagtes, wat drie Egiptiese burgers insluit, staar 'n reeks aanklagte in die gesig, insluitend moord, ontvoering, huisroof, kwaadwillige saakbeskadiging en besit van gesteelde eiendom.
Intussen ondersoek die polisie ook die moontlike verband tussen Hartnick se moord en die gewelddadige dood van 'n 25-jarige Egiptiese man wat op 9 Augustus in dieselfde straat dood is.
Vorige artikels:
- Gemeenskap protes teen borgtogaansoek in Hartnick-moordsaak
- Protes gehou teen borgtog
- Skokgranate stil hofoproer
- 12 verdagtes verskyn terwyl gemeenskap afkseid neem
- Verdagtes bly in aanhouding
- Moord verdagtes verskyn
- Vermiste jongman se liggaam gevind
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’