Update
RIVERSDAL NUUS - Die 12 verdagtes wat verlede Vrydagoggend vlugtig in die plaaslike landdroshof op aanklagte van moord, ontvoering, huisroof, opsetlike eiendom beskadiging, asook besit van gesteelde goedere verskyn het, het Woensdag 20 Augustus in Riversdal-landdroshof vir borgtogaansoeke verskyn.
Buite die hof het die spanning hoog geloop en die situasie het vinnig handuit geruk toe ongeveer 350 oproeriges by die hof saamgedrom het.
Die polisie is genoodsaak om skokgranate en selfs 'n waterkanon in te span om die skare uiteen te dryf en orde te herstel.
Die saak is weer uitgestel tot Woensdag 17 September, waar net 10 van die beskul-diges vir borgtog gaan aansoek doen. Verdagtes 11 en 12 se borgaansoeke is teruggetrek omdat hulle nie hul paroolvoorwaardes nagekom het nie.
Dié verskyning hou verband met die verdwyning en moord op Vivian Hartnick (35), wat Dinsdagaand 12 Augustus ontvoer en die volgende dag dood op 'n plaaspad gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse mediabeampte, was daar na bewering 'n hewige onderonsie tussen die verdagtes en die oorledene se familie by hul familiewoning in Van Riebeeckstraat, Riversdal, en is die polisie omstreeks 23:00 ontbied.
Die aanvallers het glo die huis geplunder en die inwoners aangerand.
Die aanvallers het na bewering 'n televisiestel, drie selfone en 'n handsak gesteel voordat hulle gevlug het.
Die oorledene is 'n bietjie later vermis en 'n soektog is geloods.
Spies het bevestig dat die polisie gesoek het na 'n groen Toyota Corolla en 'n wit Opel Corsa, wat later onderskeidelik in die omgewing van die Riversdal-polisiestasie en onderweg na Mosselbaai opgespoor is.
Die insittendes van beide voertuie is in hegtenis geneem.
Nog persone van belang is later met skerp voorwerpe in hul besit by Stegweg en 'n grondpad naby Albertinia vasgetrek.
Van die gesteelde items is in hul besit gevind.
Verdere ondersoek het die soekgeselskap na 'n plaas in Stegweg geneem waar die oorledene se liggaam met verskeie oop wonde aan sy kop, rug en lyf gevind is.
Die verdagtes, wat drie Egiptiese burgers insluit, staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, huisroof, kwaadwillige saakbeskadiging en besit van gesteelde eiendom.
Die moontlikheid dat hierdie voorval gekoppel is aan die geweldadige dood van 'n 25-jarige Egiptiese man op Saterdag 9 Augustus, ook by 'n huis in Van Riebeeckstraat, word ondersoek.
LEES MEER: Egiptenaar in Riversdal vermoor
Gen. Maj. Phumzile Cetyana, Tuiroete-distrikskommissaris, het die Riversdal-polisie, Hessequa se munisipale wetstoepassing, brandweer en verkeer, sowel as die publiek wat help soek het na Hartnick, bedank vir hul ondersteuning tydens die soektog.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het bykomende hulpbronne aan Riversdal toegeken in 'n poging om enige verdere voorvalle te voorkom.
Die Openbare Orde-polisielede sal in die gebied bly om die situasie te monitor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’