RIVERSDAL NUUS - ’n Groot misdaad-voorkomingsoperasie, onder leiding van sers. Jakobus Spangenberg van die Langeberg K9-eenheid, is Sondag 14 September in Riversdal uitgevoer met die doel om gevaarlike wapens van die straat te verwyder en bewustheid te skep oor dwelmmisbruik en misdaadvoorkoming.
Tydens die operasie is 10 persone vir die besit van gevaarlike wapens gearresteer, wat volgens die polisie duidelik vir onregmatige doeleindes gebruik sou word.
Daarbenewens is twee verdagtes met dwelms betrap, terwyl 25 oortreders beboet is vir ander misdrywe.
Benewens sers. Spangenberg het sers. Garnet Damans, buurtwaglid Lee-John Valtyn en Nicolaas Olckers ’n groot rol gespeel in die sukses van die optrede.
Stasiebevelvoerder, lt.kol. Delicia Isaacs, het die span geloof vir hul toewyding en die oortyd wat hulle ingesit het.
Sy het bevestig dat daar ná die operasie geen verdere misdaad gedurende die nag aangemeld is nie.
Sers. Spangenberg het die gemeenskap gewaarsku dat persone wat met wapens in die openbaar rondloop, hulself aan vervolging blootstel.
“Jy loop nie middernag met ’n panga rond en skreeu dreigemente na mense nie,” het hy beklemtoon.
“Daar is ’n wanpersepsie oor wat as beskerming kwalifiseer en waar dit die grens na ’n misdaad oorsteek.”
Die polisie beklemtoon dat hulle voortgaan om streng teen misdaad op te tree en doen ’n beroep op die publiek om nie self gevaarlike wapens te dra wat tot lewensgevaarlike situasies kan lei nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’