RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie is tot stilstand geruk oor die toenemende tendens van leerders, veral tussen 13 en 15 jaar, wat verseg om skool by te woon.
Ao. Hans Busch sê dat die polisie nie die rol van “waghond” kan speel nie en dat hulle ander, dringender take het.
“Ouers kla dikwels, en skole bel, maar dit help nie. Ons hande is afgekap,” sê Busch.
Hy glo die oplossing lê in samewerking tussen onderwysers, ouers en maatskaplike dienste.
“As die drie partye nie saamwerk nie, gaan die probleem net erger word.”
Busch beklemtoon dat die probleem dikwels in die ouerhuis ontstaan, waar afwesige ouers, dwelm- en drankmisbruik die dissipline ondermyn.
Hy waarsku dat kinders wat toelaes van Sassa ontvang, wettiglik verplig is om skool by te woon en dat afwesigheid by Sassa aangemeld moet word.
“Deur dit te verswyg, kom neer op bedrog,” sê hy.
Hy waarsku verder: “As kinders nie hul skoolopleiding voltooi nie, watse vooruitsigte het hulle? Hulle word nie bemarkbaar nie - dit is ’n nul op ’n kontrak. Nog ’n Sassa-geval.”
Busch sê dit is noodsaaklik dat ouers hul gesag afdwing. “Jy kan ’n perd water toe lei, maar jy kan hom nie dwing om te drink nie.
Sonder ouers wat streng optree, is skole se hande ook afgekap.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’