HEIDELBERG NUUS - Met die toeneem van verskeie misdade in die dorp asook in die Heidelberg-landdrosdistrik, het die plaaslike polisie ’n dringende waarskuwing aan alle inwoners gerig om waaksaam en op hul hoede te wees.
Volgens kapt. Mervyn Zana, waarnemende stasiebevelvoerder, is die toeneem van veral, aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook geslagsgebaseerde geweld ’n groot bron van kommer.
Dan is daar ook diefstal en huisbraak wat ook baie kommerwekkend is.
Zana noem dat diegene wat gesteelde eiendom aankoop, eintlik ’n mark skep vir diegene wat die misdade pleeg.
Hy het egter gewaarsku dat daar geen genade betoon sal word aan die wat hulle aan diefstal en huisbraak skuldig maak nie.
Dan is daar ook die tendens van kubermisdaad waar mense van groot bedrae geld ontneem word.
“Inwoners moet daarop bedag wees dat daar baie vinnige-rykwordskemas landwyd asook wêreldwyd bedryf word, en dan verloor die slagoffers van die skemas hul swaarverdiende spaargeld,” het Zana benadruk.
Daar word ‘n dringende beroep op alle inwoners gedoen om nooit op enige verdagte SMS’e, WhatsApp’s of e-posse te reageer nie.
Kons. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, het ook ’n gevra dat inwoners nie moet huiwer om enige verdagte transaksie of beweging van verdagte persone onmiddellik aan te meld nie.
Klagtes kan by 082 522 1225 per WhatsApp of gewone oproepe deurgegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’