OMGEWING - Die geheim van die malariaparasiet se vermoë om te oorleef in sy twee gashere: die muskiet en mens - by temperature wat wissel van 22°C in die muskiet tot ’n koorsige 42 °C in mense - mag dalk ook sy doodsteek wees.
Malaria, veroorsaak deur die Plasmodium falciparum-parasietspesie, is steeds die dodelikste vorm van malaria wat wêreldwyd gesondheidsuitdagings bied soos hierdie parasietspesie toenemend weerstandigheid teen bestaande middels ontwikkel.
Navorsing wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is en in The Protein Journal gepubliseer is, het getoon dat drie baie klein, maar hoogs gespesialiseerde protïene in P. falciparum ’n krities belangrike rol speel in dié parasiet se oorlewing regdeur sy gekompliseerde lewensiklus.
Die versteuring van hierdie drie proteïene kan dus ’n beduidende impak op die parasiet se vermoë om te oorleef en voort te plant, hê.
Dit is die eerste keer dat hierdie proteïene, bekend as “klein hitteskok-proteïene’ (of “Hsp20s” op grond van hul molekulêre massa), omvattend gekarakteriseer is in terme van hul biochemie en funksie in die P. Falciparum-parasiet.
Dr. Tawanda Zininga, ’n biochemikus van die US se Departement Biochemie en hoofouteur van die artikel, sê by alle vorme van lewe, speel hitteskok-proteïene ’n kardinale regulerende rol as “chaperones” of molekulêre begeleiers, deur ander proteïene te help om hul spesifieke funksionaliteit te handhaaf in fisiologies uitdagende omgewings.
Tot op hede is die kleiner hitteskok-proteïene egter oor die hoof gesien tot voordeel van hul groter eweknieë.
“Onlangse navorsing het aan die lig gebring dat Hsp20s ’n belangrike rol in die kwaliteitsbeheer van proteïene in die sel speel, veral onder stresvolle toestande. Dit maak hul dus toenemend relevant as potensiële geneesmiddelteikens,” verduidelik hy.
Dr. Tawanda Zininga, ’n biochemikus van die US se Departement Biochemie. Photo: Supplied
In die geval van die P. falciparum-parasiet, het sy navorsing nou ook getoon dat die Hsp20s veel beter presteer as hul groter eweknieë.
“Anders as die belangrike groter hitteskok-proteïene, kan die Hsp20s in die malariaparasiet onafhanklik van eksterne energiebronne funksioneer.
Met ander woorde, terwyl energie-afhanklike chaperones andersins ingekort kan word onder toestande van hoë stres en lae energie, bly dié parasiet se Hsp20s steeds aktief.
“Aangesien hulle as die laaste linie van verdediging teen proteïenmisvouing en -aggregasie optree, veral onder sellulêre strestoestande, kan die teikening van Hsp20s ’n nuwe en effektiewe benadering wees om parasietoorlewing te ontwrig,” verduidelik hy.
Zininga en MSc-student Francisca Magum Timothy, het ook bevind dat quercetin die chaperone-funksie van die malariaparasiet se Hsp20s inhibeer, alhoewel verdere studies nodig is om ’n direkte oorsaaklike verband vas te stel.
Quercetin is ’n natuurlike produk wat in sekere vrugte en groente voorkom, en welbekend is vir sy antioksidatiewe, anti-inflammatoriese en antikarsinogeniese eienskappe.
Timothy het in 2023 ’n Mandela Rhodes-beurs ontvang om haar MSc by die Universiteit Stellenbosch te voltooi. Sy is ook lid van die Young African Leaders Initiative (YALI) en ’n African ChangeMaker-genoot.
Die artikel getiteld: “Comparative characterisation of Plasmodium falciparum small heat shock proteins and their inhibition by Quercetin (3,3’,4’,5,7-Pentahydroxyflavone)” is in die The Protein Journal gepubliseer.
Francisca Magum Timothyis 'n MSc-student by die US. Photo: Linkedin
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’