Update
STILBAAI NUUS - Twee mans van Stilbaai het Vrydag 23 Augustus in die Kaapstad-streekhof verskyn.
Johan Jochemus Jacobs (beskuldigde 1) en sy pa, Willem Jacobs (beskuldigde 2) het op aanklag van bedrog, vervalsing en valse voorstelling verskyn.
Jacobs (jr.) is op 8 Februarie 2018 op Stilbaai in hegtenis geneem in verband met 'n klagte wat betrekking het op die aankoop van grond van Jozef le Roes in die Laingsburg-omgewing. Jacobs (sr.), 'n oudleraar van Riversdal, het homself op 12 Februarie oorgegee.
Die bedrogklag hou verband daarmee dat hulle Le Roes genader het om sy grond te koop vir R19,7 miljoen, wel wetende dat hulle nie die geld kan bekom nie. Die vervalsing hou verband met 'n brief wat sogenaamd deur 'n handelsbank gelewer is waarin dié bank R31,2 miljoen vir die aankoop tot hul beskikking stel. Die derde klag hou verband daarmee dat hulle geweet het hulle is met bedrog en vervalsing besig, maar voortgegaan het om Le Roes te probeer bedrieg.
Intussen het Suid-Kaap Forum met Coreen le Roes kontak gemaak. "Hulle het probeer om ons plaas te koop en ons het al na ander grond gaan kyk, maar gelukkig het ons agtergekom daar is fout toe hulle nie waarborge kon lewer nie. Uiteindelik het ons darem ons plaas behou, maar die regskoste om uit die dilemma te kom, het sowat R200 000 beloop."
Inskrywings op sosiale media het uiteenlopende menings gelug. Daar was diegene wat groot lof vir Jacobs (sr.) as dominee het, en ander wat bitter is omdat hulle na bewering deur albei ingeloop is.
Jacobs (sr.) is na sy inhegtenisneming op grond van mediese ongeskiktheid op borgtog van R5 000 vrygelaat. Jacobs (jr.) is in 'n later stadium op borgtog van R30 000 vrygelaat. Hulle is steeds uit op borgtog en albei woon in Stilbaai.
Omdat daar na bewering ander klagtes teen Jacobs (jr.) hangend is, is die saak vroeër vanaf Riversdal na Kaapstad verskuif omdat dit meer sentraal geleë is. Die saak is na 3 Oktober uitgestel vir 'n voorverhoor.
Lees vorige berigte hier:
- Jacobs pa en seun in hof
- Dit is toe diefstal en nie bedrog nie
- Uit die hof
- Bedrog: Nog klagtes oor Jacobs
- Jacobs versuim om te betaal
- Bedrogsaak uitgestel
- Klagtes teen Jacobse stroom in
- Afgetrede predikant gee homself oor
- Pa uit op borg, seun steeds in aanhouding
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'