Update
HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het 'n reeks van ses skilderye wat die hoofdorpe in die Hessequa-streek uitbeeld, oor die afgelope jaar in ontvangs geneem.
Die publiek en toeriste wat die streek besoek, kan die pragtige skilderye in die koerant se kantoor in Heidelbergweg 29, Riversdal gaan besigtig.
Persone wat in die kunstenaars se werk belangstel, kan Wilma Adamson, die redakteur (082 636 1879) vir hul kontakbesonderhede skakel. Hul inligting sal binnekort ook by die skilderye aangebring word.
Die koerant het dié projek begin nie slegs as bewusmaking van die verskeie pragtige dorpies met die mooiste natuurtonele in die streek nie, maar ook om die uitbreiding van die Hessequa-kunsroete te inspireer om sodoende toerisme te bevorder.
Hoewel Stilbaai en Jongensfontein reeds geruime tyd oor 'n kunsroete beskik, strek dit nou deur die hele streek en alle kunstenaars kan daarop kom. Hessequa-munisipaliteit en Explorers Garden Route het ook by die projek ingekoop en die die roete sal op laasgenoemde se webtuiste geplaas word.
Die kunstenaars kry 'n bord met 'n QR-kode daarop voor hul huise, sodat belangstellendes sodoende hul kontakbesonderhede en besigtigingsure kan verkry.
"Elke dorp het sy eie kaart, maar skakel by die groot kaart van die Hessequa-streek in," verduidelik Louise Kluyts, een van die kunstenaars wie ook aan die koerant 'n skildery geskenk het. "Dis die eerste keer in ons omgewing dat kunstenaars so saamstaan en 'n roete deur die hele Hessequa-streek vorm."
Kunstenaars in die omgewing word genooi om deel hiervan te word. Hulle kan Kluyts (082 378 4126), Marilise Lombard (074 034 0352), Annerise Wolmarans van Stilbaai-toerisme (stilbaaiinfo@easycoms.co.za) of Riaan Malan (riaan@hessequa.gov.za) kontak.
Central Boutique Hotel in Riversdal het permanente spasie vanaf Woensdag, 2 Desember, Maandae tot Vrydae vanaf 09:00 tot 15:00 vir kunstenaars op die roete beskikbaar gestel.
Dit sal die sentrale punt vorm waarvan inligting oor die roete gekry kan word.
Louis Hiemstra het op Vrydag, 3 Januarie sy uitbeelding van Stilbaai se Steentjiestrand aan die kantoor oorhandig.
Louise Kluyts het Hooikraal buite Heidelberg met haar towerkwas vasge-vang en dit is Dinsdag, 17 Maart aan die koerant oorhandig.
Marilise Lombard van Riversdal het op Vrydag, 10 Julie haar uitbeelding van die dorp aan Suid-Kaap Forum oorhandig.
Francois Gunter van Witsand het op Vrydag, 9 Oktober sy uitbeelding van dié rustige kusdorpie aan die kantoor oorhandig.
Ferdo Voigt van Gouritsmond het op Woensdag, 18 November sy uitbeelding van die kusdorpie oorhandig en noem dit "Reflecting in Gourits".
Vorige artikels:
- Hessequa-kunsroete 'n werklikheid
- Rustige Witsand op skilderdoek uitgebeeld
- Hooikraal word op doek verewig
- Sierlike aalwyne verbeeld Alertinia
- Stilbaai in verf vasgevang
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'